Nuus 07:00
BULLETIN 5 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê die VSA het geen reg om Suid-Afrika uit te sluit by die G20 nie
# United Africans Transformation sê die 30 persent-slaagsyfer bedreig leerders se toekoms
# En rugby: Eben Etzebeth is vir 12 weke geskors na die oog-voorval
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika se G20-presidentskap is gebou op die idee dat die behandeling van Afrika en die Globale Suide as gelyke vennote, nie liefdadigheid is nie maar ‘n strategiese noodsaaklikheid vir ʼn vooruitstrewende wêreld. Dit volg nadat Amerika se minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, gesê het Suid-Afrika se presidentskap is gekenmerk deur vermakerigheid, verdeling en radikale agendas. Lamola sê in ʼn ope brief geen lid van die G20 het die eensydige reg om Suid-Afrika van die groep uit te sluit nie.
Intussen sê ANC-sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, dit lyk asof Suid-Afrika die teiken word van wat hy noem imperialistiese aggressie deur die Verenigde State van Amerika. Rubio beskuldig die ANC-geleide regering dat hy ʼn aptyt het vir rassisme, en geweld teen Afrikaners verdra. Mbalula sê Amerika gaan voort om Suid-Afrika, wat volgens hom ʼn vreedsame, soewereine nasie is, aan te val:
# Die United Africans Transformation kritiseer die regering van nasionale eenheid se besluit om ‘n 30-persent-slaagsyfer in Suid-Afrikaanse skole te handhaaf, en noem dit ‘n bedreiging vir leerders se toekomstige mededingendheid. UAT waarsku hierdie lae drempel sal veroorsaak dat onderprestasie as normaal beskou word en leerders sal onvoorbereid wees vir die moderne werksmag. Die groep vra dringende hervormings, insluitend verbeterde onderwyserondersteuning, kleiner klasse en digitale leerinstrumente. Hy vra sterker geletterdheids- en syfervaardigheidsprogramme om leerders toe te rus met die vaardighede wat nodig is vir globale geleenthede.
# Die DA is bekommerd oor Gauteng se 2026-skooltoelatings, aangesien ouers onseker is oor hul kinders se plasings. Die DA-lid, Sergio Isa Dos Santos, sê vertragings, swak beplanning en ‘n gebrek aan deursigtigheid kan veroorsaak dat leerders weke se onderrig verloor. Ouers sê hulle het geen nuwe inligting ontvang nie of word in afgeleë skole geplaas. Hy eis dat die Gautengse Departement van Onderwys dringend die plasings afhandel, kommunikasie verbeter en ‘n doeltreffende stelsel verseker voor die nuwe akademiese jaar begin:
# Die voorsitter van die parlementêre staande komitee oor toedelings, Mmusi Maimane, het die Openbare Beskermer se kantoor versoek om bewerings van onregmatige aanstelling, wanadministrasie en finansiële wangedrag by die Frere Hospitaal in die Oos-Kaap te ondersoek. ʼn Fluitjieblaser beweer die hospitaal se waarnemende uitvoerende hoof is sonder ʼn goeie rede verwyder. Die persoon beweer ook ʼn nuwe uitvoerende hoof, wat voorheen weens vermeende misbruik van fondse geskors is, is weer aangestel. Maimane sê daar is ook kommer oor onregmatige tenderprosesse wat betrekking het op grondgebruik op die hospitaalterrein.
# Rugby: Die Springbok-slot Eben Etzebeth is vir 12 weke geskors omdat hy sy vinger in die Walliese flank, Alex Mann, se oog gedruk het. Die voorval het Saterdag plaasgevind tydens Suid-Afrika se 73-0-sege teen Wallis. ʼn Onafhanklike tugkomitee het bevind Etzebeth se daad was doelbewus en verdien ʼn straf van minstens 18 weke. Dis egter met ses weke verminder weens sy vorige skoon tug-rekord. Die 34-jarige speler sal die Haaie se volgende 12 wedstryde misloop en eers teen 28 Maart 2026 weer toegelaat word om te speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-98-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 22-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-450-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-199-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….