Nuus 15:00
BULLETIN 4 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen veroordeel ‘n artikel in Daily Maverick as kwaadwillig
# Putin sê Rusland gaan Oekraïne se hele Donbas-streek oorneem op militêre wyse of andersins
# En rugby: Kaartjies is steeds beskikbaar vir die naweek se sewestoernooi in Kaapstad
# Die DA-leier, John Steenhuisen, het Daily Maverick en die joernalis Rebecca Davis beskuldig dat hulle ‘n wraaksugtige, feitelose artikel gepubliseer het waarin sy amptelike werk met toegang tot landboumarkte in China verbind word met onwettige handel in wild. Steenhuisen het verduidelik die betrokke foto is geneem toe hy ‘n Viëtnamese G20-afvaardiging vir ‘n handelsooreenkoms verwelkom het, nie Chinese amptenare nie. Hy veroordeel die beriggewing as swak joernalistiek, verdedig sy werk om nuwe markte vir Suid-Afrikaanse produkte te ontsluit en sal die saak na sy prokureurs en die Persombud verwys.
# Die geskorste adjunkhoof van Ekurhuleni se Metropolisie, Julius Mkhwanazi, het aan die Madlanga-kommissie erken dat hy geld van die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala ontvang het en beskryf hul verhouding as baie na aan mekaar, soos broers. ‘n Getuienisleier, Mahlape Sello, het gevra of Mkhwanazi persoonlik of deur Matlala se ondernemings fondse ontvang het. Mkhwanazi het beweer die geld was vir informele behoeftes en het bygevoeg hulle het gereeld sosiaal onmoet totdat onlangse bewerings hul kommunikasie belemmer het:
Nuus uit die buiteland:
# Die Russiese president, Vladimir Putin, sê sy land gaan volle beheer oor die Donbas-streek van Oekraïne gewelddadig oorneem indien Oekraïense magte nie onttrek nie. Hy het met India Today gepraat voor ‘n besoek aan Nieu-Delhi. Putin sê hy sal die gebiede met geweld bevry of Oekraïense soldate moet onttrek. Die Oekraïense president, Volodimir Zelenskiy, het vroeër gesê Moskou moenie beloon word vir ‘n oorlog wat hy begin het nie. Rusland beheer tans 19,2-persent van Oekraïne, insluitend die Krim, wat hy in 2014 ingeneem het, en meer as 80-persent van Donetsk.
# Rugby: Daar is steeds kaartjies beskikbaar vir hierdie naweek se wêreld-sewesreekstoernooi in Kaapstad. Kaartjies word verkoop teen 250-rand per persoon vir die dag se wedstryde. Die Blitsbokke, die verdedigende kampioen, is in ‘n moeilike groep saam met Fidji, Brittanje en Nieu-Seeland, wat verlede naweek die seisoen se eerste toernooi in Dubai gewen het. Die Blitsbokke is steeds bekommerd oor die fiksheid van die sleutel-spelskepper Selvyn Davids en die sterk voorspeler Ryan Oosthuizen, wat albei in Dubai beseer is. Die wedstryde begin Saterdagoggend 10-uur op die Kaapstad-stadion.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-99-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-144-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-197-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-77-sent per vat.
# En ten slotte: Kaapstad het 212 personeellede ontplooi om kinders in die feestyd veilig te hou op strande deur middel van die Identikidz-program. Ouers kan hul kinders registreer en sal genommerde armbande ontvang om kinders vinnig op te spoor indien hulle sou verdwaal. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê tydens verlede jaar se veldtog het meer as 133-duisend-kinders nommers ontvang en 302 is veilig met hul gesinne herenig:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….