Nuus 14:00
BULLETIN 4 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mkhwanazi erken sy rol in geskenkte voertuie tydens ondervraging
# Minister Tau sê ekonomiese transformasie is nie onderhandelbaar nie
# En rugby: Die Bokafrigter is tevrede met die Wêreldbekerloting maar verwag ‘n taai uitdaging
# Die geskorste adjunkhoof van Ekurhuleni se Metropolisie, Julius Mkhwanazi, het aan die Madlanga-kommissie gesê vier geskenkte voertuie van Vusimusi “Cat” Matlala se onderneming, CAT VIP Protection, is nooit aan die EMPD uitgereik nie. Hy heet ontken dat hy die oordrag bemiddel of blouligte laat aanbring het en sê hy was slegs op soek na skenkings om die vloot uit te brei. ‘n Getuienisleier, Mahlape Sello, het sy ontkenning betwis en Mkhwanazi het later onder kruisondervraging van kommissaris Sandile Khumalo toegegee hy het die proses bemiddel:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het herbevestig dat Suid-Afrika se ekonomiese hervorming ‘n grondwetlike en morele noodsaaklikheid is. Hy sê die voorgestelde Transformasiefonds is ‘n sleutelinstrument wat gemik is op die verskuiwing van die ekonomie na groter inklusiwiteit. Tau waarsku dat stadige vordering, nie-nakoming en die vorming van frontmaatskappye pogings ondermyn om apartheid se ekonomiese nalatenskap reg te stel:
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge gaan vroeg volgende jaar ‘n nuwe besprekingsdokument oor Israel aan die kabinet voorlê. Direkteur-generaal Zane Dangor het aan parlementslede gesê dit sit Suid-Afrika se wettige pligte rakende Israel se oortredings van internasionale reg uiteen. Die EFF het intussen die regering onder druk geplaas oor vertragings met die instel van ‘n parlementêre besluit om Suid-Afrika se ambassade in Tel Aviv te sluit. Amptenare sê hoewel daar geen diplomatieke personeellede is wat polities werk nie, handhaaf Suid-Afrika steeds noodsaaklike konsulêre dienste weens reisvereistes in die streek.
# Die Afrika-ontwikkelingsbank beplan befondsing van 30,7-miljard-rand vir Namibië oor die volgende paar jaar om projekte in sektore soos vervoer, energie en water te ondersteun. ‘n Woordvoerder van die bank sê die befondsing vorm deel van sy strategie om ekonomiese groei in Namibië tot 2030 te ondersteun, en die algehele bedrag kan verander aangesien dit halfpad deur hierdie tydperk hersien sal word. Die meerderheid van die geld sal in die vorm van lenings wees, hoewel daar ook ‘n toelaag-afdeling is.
# Rugby: Die Springbokke se afrigter, Rassie Erasmus, is tevrede met die loting vir 2027 se Wêreldbekertoernooi. Suid-Afrika, wat mik na ‘n ongekende derde agtereenvolgende titel, is in Groep B saam met Italië, Georgië en Roemenië. Erasmus sê daar was al voorheen verrassings in die toernooi, so hulle sal geestelik en fisies op hul beste moet wees vir elke wedstryd. Hy voeg by dat hy niks minder as uiters fisieke kragmetings met al drie hul groep-teenstanders verwag nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-99-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-312-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-199-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….