Nuus 08:00
BULLETIN 4 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party verwelkom die nuwe parlementêre oorsig oor die Presidensie
# AfriForum sê die waterkrisis is ‘n regeringsramp
# En die EU stem in om Russiese olie-invoere teen die einde van 2027 uit te faseer
# Die GOOD-party sê die parlement se goedkeuring van ‘n nuwe toesigstruktuur sal help om verantwoordbare leierskap op die hoogste vlak van die regering te verseker. Die komitee sal die Presidensie monitor. Die stap volg na aanbevelings deur die Zondo-kommissie oor staatskaping en word verwelkom deur opposisiepartye wat pleit vir deursigtigheid. Die sekretaris-generaal van GOOD, Brett Herron sê die komitee sal as ‘n sleutelbeheermiddel op die Presidensie dien en verantwoordelike regering bevorder:
# AfriForum eis dat munisipale amptenare persoonlik aanspreeklik gehou word vir die ineenstorting van waterdienste. Die Ouditeur-generaal van Suid-Afrika het onthul dat 59 munisipaliteite in die 2023/2024-boekjaar 2,32-miljard-rand aan watertenkwaens bestee het. Van hierdie bedrag was 419-miljoen-rand onregmatig. Munisipaliteite het in hul finansiële state ook waterverliese van 14,89-miljard-rand gemeld. Lambert de Klerk van AfriForum sê die waterkrisis is veroorsaak deur die sistemiese verval van die land se watervoorsieningstelsel:
# Die Johannesburgse raad het gestem om die omstrede bykomende elektrisiteitsheffing van 200-rand vir voorafbetaalde krag te handhaaf. City Power het die bykomende heffing in Julie verlede jaar ingestel om klante te laat deel in die koste van elektrisiteitsinfrastruktuur se instandhouding, en te help om betroubare diens te verskaf te midde van probleme soos kabeldiefstal en onwettige verbindings. Die ACDP, wat die mosie om die heffing te skrap ingedien het, sê dit vergroot die lewenskostekrisis en vernietig inwoners se vertroue in openbare bestuur.
# Die Europese Unie wil alle invoere van Russiese olie teen die einde van 2027 uitfaseer. Sedert Moskou se volskaalse inval in Oekraïne in Februarie 2022, het Europa sy afhanklikheid van die wêreld se derde grootste olieprodusent drasties verminder. Amerika het ook sanksies ingestel teen Rusland se twee grootste olieprodusente, Lukoil en Rosneft. Die Europese Kommissie se president, Ursula von der Leyen, sê deur Rusland se energie-uitvoere te beperk, het Moskou se inkomste om die oorlog teen Oekraïne te finansier, drasties gedaal:
# Motorsport: Die FIA se presidentsverkiesing gaan volgende week in Oezbekistan voort, al bestaan die moontlikheid dat ‘n regsgeding die uitslag kan omkeer. Die Switserse renjaer, Laura Villars, het ʼn noodbeslissing versoek om die verkiesing uit te stel. Villars en twee ander voormalige FIA-presidentskandidate moes onttrek nadat hulle nie teen die sperdatum van 24 Oktober die vereiste lys moontlike visepresidente uit die amptelike lys van 29 kon bekom nie. Villars se aansoek teen die FIA se verkiesingsproses word op 16 Februarie 2026 aangehoor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-5-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-657-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-195-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….