Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 04 Desember 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die vervoerreus, Traxtion het ‘n rekordbedrag van 3,4-miljard-rand in Prasa se lokomotiefvloot belê. Die koerant skryf die belegging is die eerste fase in die maatskappy se breër beleggingsprogram van 5,8-miljard-rand.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor die getuienis van die geskorste waarnemende hoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi voor die Madlanga-kommissie. Die koerant skryf hy het erken hy moes nie memorandums van verstandhouding met die vermeende misdadiger Vusimuzi Cat Matlala onderteken het nie.
Dan skryf die webblad die lede van die portefeuljekomitee oor Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling is omgekrap omdat die minister van Finansies, Enoch Godongwana nie by ‘n komiteesitting opgedaag het nie.
En laastens is daar nuus oor die Proteas wat die eendagreeks teen Indië een-elk gelyk gemaak het.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf metrorade bestee 3,32-miljard-rand op watertenkwaens.
Daar word berig die Parlement het teen ‘n voorstel gestem om die 30-persent-slaagsyfer te skrap.
En laastens is daar nuus oor die uitwerking van die VSA se inkorting van hulp aan Suid-Afrika.
# Sowetan:
Berig ook Mkhwanazi het in getuienis voor die Madlanga-kommissie erken hy het Cat Matlala aangestel om veiligheidsdienste te lewer sonder om hom vooraf te keur.
# En The Citizen:
Skryf meer as twee-duisend leerders by die Sizwe Secondary School in Germiston is huis toe gestuur en hul eksamens gekanselleer nadat stormwater en riool in hul klaskamers ingevloei het. Volgens die koerant het die regering nog geen kommentaar gelewer nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die omstrede Bela-wet. Die koerant skryf hoewel voormalige model C-skole eerste aan die beurt kom met die toepassing van die wet, het die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie gesê dit moet nie gesien word as ‘n totale aanslag nie.
En tweedens skryf die koerant die Maak-‘n-Las-grapmaker Nico Nel het begin met sy opgeskorte vonnis van ses jaar, nadat hy nie een van sy slagoffers se gesteelde geld terugbetaal het nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig watervoorsiening in Nelson Mandelabaai is onder druk en inwoners sal aangewese wees op gepompte water vir die afsienbare toekoms. In Knysna is vlak 4-waterbeperkings ingestel.
En tweedens skryf die koerant ‘n voormalige Gqeberha-inwoner en advertensiemagnaat, Mike Abel, het onlangs die Financial Mail Lifetime Achievement Award ontvang, een van die bedryf se grootste eerbewyse.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die spertyd vir die aanbring van nuwe nommerplate in KwaZulu-Natal het op 30 November verstryk. Motoriste is gewaarsku die ou nommerplate is nou onwettig en die metropolisie gaan voort om mense te beboet.
En tweedens berig die koerant ook oor die 30-persent-slaagsyfer.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig uitgaande streek- en plaaslike owerheidsleiers se magte om besluite te neem het op 25 November verval en enige besluite wat daarna geneem is, is ongeldig.
Dan skryf die koerant die Swakopmund-munisipaliteit gaan die stukkende wandellaan langs die see suid van die hawehoof herstel. En laastens word berig die opgradering van paaie en rioolwerke in Otjiwarongo se DRC informele nedersetting het begin.