Nuus 18:00
BULLETIN 3 Desember 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Mkhwanazi van EMPD ontken blouligbewerings
# Regter Mokgoatlheng verdaag die Meyiwa-verhoor terwyl advokaat Charles Mnisi professionele hulp soek
# En, die GOOD-party vra vir vinnige geregtigheid na die moord op ‘n kind in Mitchells Plain
# Die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni Metropolisie, Julius Mkhwanazi, het ontken dat hy ooit blou ligte gemagtig het vir die beskermingsvoertuie vir CAT VIP, wat aan die omstrede sakeman Vusimusi ‘Cat’ Matlala behoort. Mhkwanazi het aan die Madlanga-kommissie gesê die motors het nooit by die Stad Ekurhuleni aangekom nie. Hy sê hy het ten volle met OPOD-ondersoekers saamgewerk en alle vereiste verklarings en dokumente ingedien. Hy hou vol hy het nooit onwettige instruksies uitgereik of amptelike prosesse verander nie:
# Regter Ratha Mokgoatlheng van die Hooggeregshof in Pretoria het gelas die Senzo Meyiwa-moordverhoor sal voortgaan, nadat advokaat Charles Mnisi gevra het om professionele hulp te soek. Mokgoatlheng het beklemtoon die saak kan nie as gevolg van Mnisi se afwesigheid laat vaar word nie. Mokgoatlheng sê Mnisi mag ‘n sielkundige of dokter raadpleeg. Die regter het die verrigtinge tot môre uitgestel en het beklemtoon dit is die hof se verantwoordelikheid om te verseker dat die saak voortgaan:
# Die GOOD-party is geskok oor die wrede moord op ‘n negejarige seun en twee volwassenes in Mitchells Plain, Kaapstad. Twee mense is gewond in die voorval wat deur die polisie met bendegeweld verbind word. Altesaam 49 mense is tussen Junie en September in die omgewing vermoor. Jonathan Cupido van GOOD vra dringende polisie-optrede, geregtigheid vir slagoffers en betekenisvolle maatskaplik-ekonomiese programme om geweld deur jeugdiges en gemeenskapsveiligheid teen te werk:
# Die dodetal in Hongkong se dodelikste brand in dekades het tot 159 gestyg. Die polisie het onthul die slagoffers sluit ‘n baba en ‘n 97-jarige persoon in, terwyl die soektog voortduur in die uitgebrande woonstelkompleks. Van die 159 liggame wat gevind is, is 140 reeds uitgeken, met 91 vroue en 49 mans tussen een- en 97-jaar. Sowat 30 mense word nog vermis. Die polisie het 21 mense in hegtenis geneem vir manslag as deel van die ondersoek na die oorsaak van die brand.
# Sokker: Die wêreldbeheerliggaam Fifa beplan om die video-hulpskeidsregterstelsel in te stel vir die toekenning van hoekskoppe in volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Noord-Amerika. Dit is ondanks teenkanting van plaaslike ligas, wat beteken dat FIFA eers ‘n proeflopie sal moet reël om dit in die toernooi te kan gebruik. FIFA se hoof van skeidsregters, Pierluigi Collina, is ook ten gunste van ‘n verandering wat sal verseker dat enige fout wat vinnig deur VAR geïdentifiseer kan word, moontlik aan die skeidsregter op die veld gekommunikeer sal word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 22-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-273-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-223-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….