Nuus 17:00
BULLETIN 3 Desember 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie keer twee beweerde lyfwagte van Katiso “KT” Molefe aan vir ongelisensieerde vuurwapens
# BOSA kritiseer die ANC, DA en ander partye wat teen die verhoging van die slaagsyfer tot 50% gestem het
# En, die Rafah-kruising word binnekort oopgestel om Palestyne na Egipte deur te laat
# Die polisie het twee vermeende lyfwagte van die moordbeskuldigde Katiso “KT” Molefe aangekeer buite die Alexandra-landdroshof in Gauteng. Hulle is na bewering betrap met twee ongelisensieerde AK-47-gewere en ammunisie. Hulle voertuig is ook afgeneem omdat die nommerplate nie dieselfde was nie. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê die twee is in hegtenis geneem na Molefe se hofverskyning. Sy sê dis noodsaaklik om te verhoed dat onwettige vuurwapens howe ingebring word:
# Build One South Africa kritiseer politieke partye wat teen die verhoging van die skoolslaagsyfer tot 50-persent gestem het. Die mosie, wat BOSA by die Parlement ingedien het, is deur die ANC, DA, Vryheidsfront Plus en die Patriotic Alliance teengestaan. Die party se leier, Mmusi Maimane, sê die regering moet fokus op die ondersteuning van onderwysers en die verbetering van onderwys, eerder as om lae akademiese standaarde te handhaaf:
# Die DA in die Wes-Kaap het na aanleiding van die meer as drie-duisend seksuele oortredings wat tussen April en September aangemeld is, ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa gedoen om tasbare maatreëls in te stel, insluitend strenger wetstoepassing, ‘n nasionale strategie vir geslagsgeweld en ondersteuning vir oorlewendes. Wendy Kaizer-Philander van die party sê die provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het psigo-maatskaplike dienste aan meer as 24-duisend slagoffers verskaf en skuiling aan twee-duisend vroue en kinders gebied:
# Die Rafah-grensoorgang in Gaza sal binne die volgende paar dae oopmaak en duisende Palestyne wat mediese sorg benodig sal die oorloggeteisterde enklawe deur Egipte kan verlaat. Die Israelse weermag sê die opening van die Rafah-kruising sal met Egipte gekoördineer word, onder toesig van die Europese Unie. Die Verenigde Nasies sê minstens 16-duisend-500 pasiënte benodig mediese sorg buite Gaza. Die Rafah-kruising was voor die oorlog die enigste regstreekse uitgangspunt uit Gaza en ‘n belangrike toegangspunt om hulp na die gebied te ontplooi.
# Gholf: Die vyftienmalige major-kampioen Tiger Woods sê sy herstel van ‘n rugoperasie is nie so vinnig as wat hy graag sou wou hê nie. Die 49-jarige Amerikaner het in Oktober ‘n rugoperasie ondergaan, sy tweede in ‘n bietjie meer as ‘n jaar en sewende sedert 2014. Hy het ook vroeër vanjaar ‘n operasie ondergaan om ‘n geskeurde linkerhak-sening te heg. Woods, wat laas gespeel het in verlede jaar se Britse Ope, sê hy het nog nie ‘n terugkeerdatum nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-7-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 22-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-051-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-220-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….