Nuus 15:00
BULLETIN 3 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mkhwanazi beskuldig ‘n vorige getuie van leuens en die vervalsing van dokumente voor die Madlanga-kommissie
# Nog geen deurbraak in vredegesprekke tussen Putin en Amerikaanse onderhandelaars nie
# En rugby: Die loting vir 2027 se Wêreldbekertoernooi plaas die Springbokke saam met Italië, Georgië en Roemenië
# Die geskorste adjunkhoof van Ekurhuleni se Metropolisie, Julius Mkwanzi, het aan die Madlanga-kommissie gesê die afgetrede adjunkhoof, Revo Spies, het tydens sy getuienis gelieg en vervalste bedryfsplanne voorgelê. Dit volg nadat Mkhwanazi CAT BBP-beskermingsdienste aan die stad bekendgestel het voor die stadsrede. Spies het voorheen beweer Mkhwanazi het dokumente verander om privaat transaksies te verbloem wat Matlala se ondernemings wetstoepassingsmagte gee. Mkhwanazi ontken die bewerings:
# ‘n Nuwe verslag deur die Nasionale Beplanningskommissie waarsku kapitaal hoop op in Suid-Afrika se ekonomie, maar word nie herbelê in vaste bates wat benodig word vir groei nie. Die verslag verklaar die land se finansiële ekostelsel, wat bestaan uit onderling-gekoppelde openbare en privaat balansstate, versterk uitsluiting en onderbelegging. Die verslag beveel ‘n nuwe makro-finansiële bestuurstelsel aan, hervormings aan pensioenfondsreëls, versterkte toesig oor ontwikkelingsbefondsing en uitgebreide gemengde befondsingsmodelle. Die kommissie sê hierdie veranderings kan vyf-duisend-miljard-rand vir infrastruktuur en die billike energie-oordrag ontsluit.
# Eskom sê die voortslepende gure weerstoestande in dele van die land lei tot ‘n toename in elektrisiteitsprobleme, veral in Gauteng. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ʼn waarskuwing uitgereik oor geïsoleerde en verspreide reën en donderbuie in die oostelike dele van die land hierdie week. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê hierdie toestande beïnvloed reaksietye, veral in meer ontoeganklike gebiede:
Nuus uit die buiteland:
# Die Russiese president, Vladimir Putin, en Amerikaanse onderhandelaars kon blykbaar nog nie ‘n deurbraak maak in ‘n Oekraïnse vredesooreenkoms nie. Russiese amptenare sê die gesprekke was prakties, maar geen ooreenkoms is bereik oor geografiese toegewings deur Kiëf nie. NAVO se ministers van Buitelandse Sake vergader intussen in Brussel vir voortgesette vredesgesprekke. Die hoof, Mark Rutte, sê Moskou toets hul beperkings en hulle het steeds te kampe met werklike en blywende gevare. Hy sê Rusland het hul lugruim met hommeltuie en stralers geskend en spioenasieskepe in sy water ontplooi.
# Rugby: Suid-Afrika sal in Groep B wees saam met Italië, Georgië en Roemenië in 2027 se Wêreldbekertoernooi in Australië. Die amptelike loting het vandag in Sydney plaasgevind. Daar sal die eerste keer 24 spanne wees, wat in ses groepe meeding. Nieu-Seeland, die gasheer, Chili en Hongkong China is in Groep A, en Argentinië, Fidji, Spanje en Kanada in Groep C. Groep D bestaan uit Ierland, Skotland, Uruguay en Portugal. Frankryk, Japan, Amerika en Samoa is in Groep E en Engeland, Wallis, Tonga en Zimbabwe in Groep F.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-973-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-205-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….