Nuus 13:00
BULLETIN 3 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Mededingingskommissie verwys agt verskepingsreuse vir vervolging
# Die DA vra die regering om toegang tot Lenacapavir te verseker
# En rugby: ‘n Dissiplinêre paneel het glo nog nie ooreenstemming bereik oor Etzebeth se straf nie
# Die Mededingingskommissie het agt groot vragverskepingsmaatskappye na die Mededingingstribunaal verwys vir vervolging oor beweerde prysvasstelling. Dit sluit in Maersk, Mediterranean Shipping Company, die Franse vragverskepingsmaatskappy CMA CGM, Evergreen en COSCO Shipping Corporation van China. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle algemene tariefverhogings vasgestel het op roetes wat Suid-Afrika met Asië en Wes-Afrika verbind. Die beweerde samespanning het van 2008 tot 2018 geduur, met identiese tariefverhogings wat gehef is op roetes soos Sjanghai, Ningbo, Shekou en Durban.
# Die DA vra die regering om ‘n ooreenkoms met Amerika te sluit om die MIV-voorkomingsmiddel Lenacapavir te bekom. Die Amerikaanse regering het vroeër die week die skenking van slegs 500 dosisse elk vir verskeie Afrikalande aangekondig, insluitend vir Zambië, Uganda en Kenia, maar Suid-Afrika uitgesluit. Michele Clarke van die DA sê die uitsluiting is ‘n regstreekse gevolg van Suid-Afrika se gespanne diplomatieke verhouding met Amerika:
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika en Mosambiek het ‘n strategiese en vriendskaplike verhouding wat ontwikkel is tydens die stryd teen kolonialisme en apartheid. Hy is in Maputo vir die vierde Suid-Afrika-Mosambiek-bi-nasionale kommissie. Suid-Afrikaanse uitvoere na Mosambiek het verlede jaar altesaam 19,4-miljard-rand beloop, vergeleke met 18,9-miljard-rand in 2023. Ramaphosa sê die twee lande het meer as 70 ooreenkomste en verstandhoudingsooreenkomste in verskeie sektore onderteken, insluitend beleggings, verdediging, landbou, gesondheid en vervoer:
# Rugby: Wêreldrugby se dissiplinêre paneel kon volgens berigte nie ooreenstemming bereik oor watter straf die Springbok-slot Eben Etzebeth moet kry nie. Dit volg op sy rooikaart vir kontak met die flank Alex Mann se ooggebied in Suid-Afrika se verwoestende oorwinning van 73-0 oor Wallis in Cardiff verlede naweek. Die drie paneellede het glo bykomende tyd versoek te midde van berigte van ‘n groot meningsverskil oor die erns van die straf. Etzebeth sal dalk eers Sondag weet wat sy lot is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-946-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-201-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-97-sent per vat.
# En laastens: Die Stad Kaapstad het ‘n stampvol somervakansieprogram bekendgestel om kinders veilig en besig te hou gedurende die skoolvakansie. Ontspannings-, park- en biblioteekspanne sal sport, speletjies, koderingsessies, flieks en leesbedrywighede by gemeenskapsinrigtings aanbied. Ouers word aangemoedig om van die dienste gebruik te maak om jongmense weg te hou van gevare en onveilige omgewings. Die stad sal ook strand- en swembadveiligheid versterk, met die Identikidz-stelsel wat help om verlore kinders met hul gesinne te herenig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….