Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 3 Desember 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Wêreldrugby se dissiplinêre paneel kon volgens berigte nie ooreenstemming bereik oor watter straf die Springbok-slot Eben Etzebeth moet kry nie. Dit volg op sy rooikaart vir kontak met die flank Alex Mann se ooggebied in Suid-Afrika se verwoestende oorwinning van 73-0 oor Wallis in Cardiff verlede naweek. Die drie paneellede het glo bykomende tyd versoek te midde van berigte van ‘n groot meningsverskil oor die erns van die straf. Etzebeth sal dalk eers Sondag weet wat sy lot is.
# Krieket: Die voormalige kaptein van die Protea-vrouespan, Dané van Niekerk, kan na twee-en-‘n-half jaar haar terugkeer na internasionale aksie maak in Vrydag se eerste T20 teen Ierland in Kaapstad. Sy het haar uittrede aangekondig ná 2023 se Wêreldbekertoernooi in die formaat nadat sy weens fiksheidsprobleme uitgelaat is, maar het dit onlangs omgekeer. Die 32-jarige Van Niekerk is ingesluit in die groepe vir albei witbalreekse teen die Iere. Sy glo sy het baie meer om die span te bied:
# Sokker: Banyana Banyana het die jaar op ‘n hoogtepunt afgesluit met ʼn sege van 2-0 oor Marokko in hul internasionale vriendskaplike wedstryd op die Stade D’Agadir. Nonhlanhla Mthandi en Noxolo Cesane se doele in die tweede helfte het die oorwinning vir afrigter Desiree Ellis se span beklink. Die wedstryd is deel van voorbereiding vir volgende jaar se Afrikabekertoernooi vir vroue in dieselfde land. Suid-Afrika het na WAFCON deurgedring met ‘n oorwinning van 2-0 oor die Demokratiese Republiek die Kongo in hullle kwalifiseerder in Oktober.
# Motorsport: Die Fransman Isack Hadjar is in die plek van Yuki Tsunoda ingesluit as spanmaat vir die viermalige Formule Een-wêreldkampioen, Max Verstappen, vir Red Bull vir die 2026-seisoen. Hadjar het ‘n indrukwekkende eerste seisoen by Racing Bulls gehad, en in tien wedrenne punte aangeteken, insluitend sy eerste plek op die podium in die Nederlandse Grand Prix. Tsunoda bly as ‘n toets- en reserwebestuurder in die Red Bull-groep. Die huidige Formule 2-bestuurder, Arvid Lindblad, sal intussen saam met Liam Lawson sy F1-buiging by Racing Bulls maak.
# En gholf: Die vyftienmalige major-kampioen Tiger Woods sê sy herstel van ‘n rugoperasie is nie so vinnig as wat hy graag sou wou hê nie. Die 49-jarige Amerikaner het in Oktober ‘n rugoperasie ondergaan, sy tweede in ‘n bietjie meer as ‘n jaar en sewende sedert 2014. Hy het ook vroeër vanjaar ‘n operasie ondergaan om ‘n geskeurde linkerhak-sening te heg. Woods, wat laas gespeel het in verlede jaar se Britse Ope, sê hy het nog nie ‘n terugkeerdatum nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….