Nuus 11:00
BULLETIN 3 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika word versoek om nie buite stemming te bly in ‘n VN-stemming wat eis dat Rusland ontvoerde Oekraïnse kinders vrylaat nie
# # Die soektog word hervat na die vermiste Maleisiese passassiersvliegtuig
# En tennis: Serena Williams dien dokumente in vir haar terugkeer, maar sê sy gaan nie weer speel nie
# Die Oekraïnse Vereniging van Suid-Afrika vra die regering om nie buite stemming te bly wanneer die Verenigde Nasies stem of Rusland ontvoerde Oekraïnse kinders moet terugbesorg nie. Die VN se algemene vergadering in New York stem vandag oor die voorstel wat eis dat meer as 20-duisend Oekraïnse kinders wat Rusland sedert 2014 onder dwang weggevoer of gedeporteer het, onmiddellik, veilig en onvoorwaardelik terugkeer. Dzvinka Kachur van die vereniging sê Suid-Afrika kan selfs as neutrale land nie stilbly oor kinderregte nie:
# Die DA het die Nasionale Vergadering se goedkeuring verwelkom vir die skepping van ‘n oorsigkomitee oor die Presidensie. Die komitee sal die begroting van die Presidensie bekyk, terwyl die president, adjunkpresident en direkteur-generaal een keer per jaar terugvoering moet gee oor belangrike beleidskwesseis. George Michalakis van die DA sê die komitee se totstandkoming is ‘n belangrike stap vir die versterking van die Parlement se toesighoudende rol nadat dit ‘n sleutelaanbeveling van die staatskapingskommissie was:
# Koning MisuZulu kaZwelithini het prins Thulasizwe Buthelezi weer as die Zoeloes se tradisionele eerste minister aangestel. Buthelezi, wat die huidige LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake in KwaZulu-Natal is, is in Desember verlede jaar verwyder sonder dat die koning ‘n rede verskaf het. Die koning se woordvoerder, prins Thulani Zulu, sê om Buthelezi te ondersteun, het die koning ook die eerste keer in Zoeloe-geskiedenis ‘n uitvoerende raad van vyf lede vir die eerste minister aangestel:
Nuus uit die buiteland:
# Maleisië se Ministerie van Vervoer het bevestig dat die soektog na die vermiste Vlug MH370 van die Maleise lugredery op 30 Desember hervat. Die vliegtuig het op 8 Maart 2014 tussen Kuala Lumpur en Beijing van radarskerms verdwyn met 239 mense aan boord. Die vorige soektog is in Maart weens gure weerstoestande afgestel. Die Amerikaans-gebaseerde robotika-maatskappy, Ocean Infinity, sal die soektog vir 55 dae voortsit. Die ministerie sê hy is daartoe verbind om afsluiting te bied aan die gesinne wat deur die tragedie geraak word.
# Tennis: Die 23-malige Grand Slam-kampioen, Serena Williams, sê sy gaan nie na die sport terugkeer nie, al het sy onlangs ʼn stap gedoen wat nodig is indien sy na beroepstennis sou wou terugkeer. Die 44-jarige Amerikaner verskyn op ʼn lys wat in Oktober op die Internasionale Tennis-integriteitsagentskap se webtuiste gepubliseer is. Dit bevat name van spelers wat in die internasionale opkikkertoets-groep geregistreer is. Williams het ná 2022 se Amerikaanse Ope uitgetree.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-7-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 22-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-330-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-209-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….