Nuus 18:00
BULLETIN 2 Desember 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Senzo Mchunu ontken die bewerings van korrupsie wat verband hou met Cat Matlala en KT Molefe
# Die regering verwelkom 0,5% ekonomiese groei in die jongste BBP-syfers
# En, ‘n kenner sê die VSA bly ‘n onvervangbare handelsvennoot vir Suid-Afrika
# Die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu het aan die Madlanga-kommissie gesê hy is nog nooit in enige van sy regeringsposisies van korrupsie beskuldig nie. Mchunu het voor die kommissie in Pretoria getuig oor die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde en het enige oortredings wat verband hou met die beweerde misdadige persone Vusimuzi “Cat” Matlala en Katiso “KT” Molefe ontken:
# Die regering verwelkom Suid-Afrika se Bruto Binnelandse Produk-groei van 0,5-persent in die derde kwartaal. Dit is die derde agtereenvolgende kwartaal van groei, wat ekonomiese veerkragtigheid weerspieël. Sleutelbydraers sluit in die mynbousektor, wat met 2,3-persent gestyg het, met platinum, mangaan en steenkool as voorlopers. Handel, spyseniering en akkommodasie het met een-persent gestyg. Nomonde Mnukwa van die Regeringskommunikasie- en Inligtingstelsel sê finansies, vaste eiendom, vervaardiging, landbou en regeringsdienste het ook toenames aangeteken:
# ‘n Kenner van Internasionale Betrekkinge, Phiwokuhle Mnyandu, sê die VSA kan nie vervang word as ‘n sleutelhandelsvennoot nie. Mnyandu het aan SABC News gesê Suid-Afrika moet gesprekke voorop stel om diplomatieke en ekonomiese bande met Washington te versterk. Mnyandu voer aan die handhawing van ‘n bestendige verhouding met die VSA is noodsaaklik vir Suid-Afrika se langtermyngroei. Hy waarsku om weg te beweeg van die vennootskap kan die land se globale posisionering en ekonomiese bestendigheid ondermyn:
# Die Russiese president, Vladimir Putin loof die volledige inname van die oos-Oekraïnse stad Pokrovsk as ‘n belangrike oorwinning in ‘n uitgerekte veldtog. Putin het in ‘n video aan die Leërhoofde gesê dit sal Moskou help om sy wyer oorlogsdoelwitte te bereik. As die stad se inname bevestig word, sal dit Moskou ‘n afspringplek gee vir die inname van die twee grootste oorblywende Oekraïns-beheerde stede in die Donetsk-streek, Kramatorsk en Sloviansk. Oekraïne het nog nie Putin se aanname erken dat Pokrovsk ingeneem is nie.
# Krieket: ‘n Rugprobleem gaan die Australiese aanvangskolwer Usman Khawaja uit die tweede toets om die As teen Engeland hou, wat Donderdag op die Gabba in Brisbane begin. Hy kon nie open in die eerste toets in Perth nie weens rugspasmas en ervaar steeds ongemak. Khawaja sal nie vervang word nie en daar word verwag dat Travis Head weer die beurt vir Australië sal open nadat hy 123 in Perth aangeteken het, toe hulle binne twee dae met agt paaltjies gewen het. Khawaja sal by die groep bly.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-909-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-215-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….