Nuus 11:00
BULLETIN 2 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die ANC kon nie daarin slaag om die SAKP te oortuig om nie onafhanklik aan volgende jaar se verkiesing deel te neem nie
# Die Nasionale Tesourie verwag munisipale besteding sal in die volgende boekjaar tot 728,3-miljard-rand styg
# En gimnastiek: Die Amerikaanse beheerliggaam word gedagvaar vir versuim om op te tree teen bewerings van seksuele misbruik
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê hulle kon nie die SAKP oorreed om sy besluit te heroorweeg om onafhanklik aan volgende jaar se plaaslike verkiesing deel te neem nie. Die SAKP sê dis omdat die ANC versuim om hom tot die hersamestelling van die alliansie te verbind. Die ANC het voorheen gesê hy sal nie SAKP-ministers en adjunkministers verwyder wat onder die ANC-vaandel dien nie. Mbalula sê egter die kwessie van dubbele lidmaatskap sal moontlik heroorweeg moet word:
# Die Nasionale Tesourie sê hy verwag dat die totale munisipale uitgawes wat in die huidige boekjaar na raming 698-miljard-rand sal bedra, in die volgende jaar tot 728,3-miljard-rand sal styg en in 2027/28 tot 764-miljard-rand. Die Tesourie het die bedryfs- en kapitaalbegrotings van munisipaliteite gepubliseer soos deur hul onderskeie rade aangeneem. Werknemerverwante uitgawes en grootmaat-aankope is die belangrikste kostedrywers, wat onderskeidelik 27- en 35-persent van die bedryfsuitgawes verteenwoordig. Die Tesourie sê die bekendmaking van die begrotings stel gemeenskappe in staat om hul munisipale rade aanspreeklik te hou.
# AfriForum het die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, gevra vir ‘n onmiddellike, volledige en deursigtige vorderingsverslag oor plasings vir die 2026-skooljaar. Daar is klagtes dat die departement se aanlyn plasingstelsel vir graad een en graad agt nie werk nie. Carien Bloem van AfriForum sê die ware rede is blykbaar weens uitstaande betalings aan die diensverskaffer:
Nuus uit die buiteland:
# Die Europese Unie sê dis nie in Oekraïne of die EU se beste belang om druk op die land te plaas om gebieds- toegewings te maak in vredesgesprekke met Rusland nie. Hy meen Amerika se 28-punt-vredesplan is te gunstig vir Moskou. Dit sluit die toekenning van gebiede in die ooste aan Rusland in, terwyl Oekraïne gedwing word om sy Leër te verklein. EU-woordvoerder Kaja Kallas sê dit sou ‘n gevaarlike presedent skep as Rusland toegelaat word om grense gewelddadig te verander:
# Gimnastiek: Amerika se beheerliggaam en die Amerikaanse SafeSport-sentrum verwag ‘n regsgeding nadat twee gimnaste beweer het hulle is seksueel misbruik in die Chow-gimnastiek- en dansinstituut in Iowa. Albei organisasies is glo in Desember 2017 ingelig oor afrigter Sean Gardner se onbehoorlike gedrag, maar het versuim om dit behoorlik te ondersoek, hom by die polisie te verkla of sy afrigters-bevoegdheid op te skort. Gardner word ook aangekla van kinderpornografie omdat hy glo ʼn versteekte kamera in ʼn badkamer geplaas het om sy studente af te neem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-975-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-213-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….