Nuus 09:00
BULLETIN 2 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Tesourie verwag dat munisipale uitgawes tot meer as 700-miljard-rand gaan styg
# TLU SA sê plaasmoorde moet as ‘n prioriteitsmisdaad verklaar word
# En rugby: Wallis keer terug na die tekenbord na hul vernederende nederlaag teen die Springbokke
# Die Nasionale Tesourie sê hy verwag dat die totale munisipale uitgawes wat in 2025/2026 na raming 698-miljard-rand sal bedra, in 2026/2027 tot 728,3-miljard-rand sal styg en in 2027/2028 tot 764-miljard-rand. Die Tesourie het die bedryfs- en kapitaalbegrotings van munisipaliteite gepubliseer soos deur hul onderskeie rade aangeneem. Werknemerverwante uitgawes en grootmaat-aankope is die belangrikste kostedrywers, wat onderskeidelik 27- en 35-persent van die bedryfsuitgawes verteenwoordig. Die Tesourie sê die bekendmaking van die begrotings stel gemeenskappe in staat om hul munisipale rade aanspreeklik te hou.
# Die landbou-organisasie, TLU SA, beskuldig die regering dat sy politieke wil ontbreek om plaasmoorde te erken en as prioriteitsmisdaad te verklaar. Dit volg na die plaasmoord die naweek op At Mahne en die wreedaardige aanval op sy vrou, Pietro, in Baltimore, Limpopo. Bennie van Zyl van TLU SA sê die ironie is dat die mense wat boere aanval dikwels dié is wat afhanklik is van boere se arbeid en produkte. Hy sê die regering wil nie sy burgers beskerm nie:
# ActionSA verwelkom die inhegtenisneming van ‘n werknemer van Tembisa-hospitaal wat by wydverspreide korrupsie betrek word. Die Spesiale Ondersoekeenheid het bevind Zacharia Tshisele het onregmatige betalings van diensverskaffers ontvang. Hy het 13,5-miljoen-rand terugbetaal wat net ʼn gedeelte is van die gunsloon wat hy volgens berigte van verskaffers ontvang het. Zwelithini Mtshali van ActionSA sê die Ondersoekeenheid verbind tot dusver 122-miljoen-rand se betalings aan minstens 15 huidige en voormalige amptenare by Gauteng se Gesondheidsdepartement en Tembisa-hospitaal:
# Die Britse premier, Keir Starmer, sê die Verenigde Koninkryk moet ‘n beleid teenoor China handhaaf wat die bedreiging erken wat dit vir sy nasionale veiligheid inhou. ‘n MI5-waarskuwing is verlede maand uitgereik oor Chinese spioene wat parlementslede teiken. Starmer se toespraak volg ook te midde van toenemende bespiegeling dat sy regering toestemming sal gee vir die omstrede nuwe Chinese super-ambassade in Londen, ondanks kommer oor nasionale veiligheid. Die premier sê China kan egter nie as vyand geag word nie, weens sy bepalende mag in tegnologie en handel:
# Rugby: Wallis is besig met behoorlike nabetragting van Saterdag se vernederende pakslae van 73-0 deur die Springbokke in Cardiff. Dit was die span se 11de tuisnederlaag in 12 wedstryde, met Wallis wat 20 uit 22 wedstryde verloor het sedert hulle deur Argentinië in die kwarteindronde van die 2023-Wêreldbeker uitgeskakel is. DIt kan moontlik toegeskryf kan word aan die gebrek van ‘n opvolgplan na verskeie hoëprofielspelers uitgetree het. Die unie oorweeg glo om een van sy vier professionele spanne te skrap, as deel van sy oorlewingsplan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-9 sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 22-rand-60 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-en-73 dollar. Die prys van goud is vier-duisend-216 dollar, 76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-10-sent per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….