Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 02 Desember 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die adjunkminister van Gesondheid, Joe Phaahla wat in mediaberigte by ‘n komplot teen president Cyril Ramaphosa betrek is sê die bewerings is nonsens.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig Solidariteit sê hy is dankbaar oor president Donald Trump se besorgdheid oor Afrikaners, maar die vakbond wil nie hê Afrikaner-belange moet ‘n speelbal tussen Suid-Afrika en die VSA word nie.
Dan skryf die webblad oor die Madlanga-kommissie waar smerige aantygings teen die geskorste hoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Jabulani Mapiyeye gemaak is. Dit wissel van magsmisbruik tot afpersing en verkragting.
En laastens is daar nuus oor die rekordneerslae wat in November oor die binneland uitgesak het. Verskeie plekke het meer as 300 millimeter aangeteken.
GAUTENG:
# Sowetan:
Berig oor sersant Matome Rapetsa en konstabel Maselelo Montja wat die naweek aan die Rand vermoor en van hul dienswapens beroof is. Beide laat jong gesinne agter en die koerant skryf hul toekomsdrome is verpletter.
# En The Citizen:
Skryf ook oor die beweerde komplot teen Ramaphosa en die ANC se heftige ontkenning dat soiets bestaan.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor Alicia Hunter van Hawston wat nou reeds twee weke wag dat haar vermiste seun, die 25-jarige Calebjude Vogel, opgespoor word. Sy boot het vermoedelik naby die Hawston-hawe omgeslaan.
Dan skryf die koerant die baanbreker Suid-Afrikaanse fietsryer, Gert Fouché is kort voor die eindpunt van die Munga-wedren in die Bainskloofpas ernstig beseer in ‘n ongeluk. Hy is in ‘n kritieke toestand in ‘n hospitaal in Kaapstad.
En laastens is daar nuus oor Nic Serfontein van Edenville wat die gesogte Platinum-bulprys van die Landbounavorsingsraad ontvang het vir sy Bonsmara-stoet.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig adjunkpresident Paul Mashatile het gewaarsku dat Suid-Afrika ‘n krisis tegemoet gaan met 1,1-miljoen mense wat hul Vigs-behandeling verloor het.
En tweedens skryf die koerant die MK-LP en voormalige uitvoerende hoof van Prasa, Lucky Montana, het uit die Parlement bedank.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli sê die kliënte van die omstrede Ithala-bank sal voor Kersfees toegang tot hul fondse hê.
En tweedens is daar nuus oor die reuse-kersboom wat in Pietermaritzburg opgerig word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ouers by drie privaat skole wil weet wat gedoen gaan word aan die beduidende koste wat waarskynlik volgende jaar uitsluitlik hulle verantwoordelikheid gaan wees indien die staat sy finansiële ondersteuning onttrek.
En tweedens skryf die koerant die grootste deel van Windhoek se 883-kilometer teerpaaie het hul ontwerpleeftyd oorskry.