Nuus 07:00
BULLETIN 2 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit sê Suid-Afrika en die VSA moet hul verhouding herstel
# Minister Senzo Mchunu verskyn vandag voor die Madlanga-kommissie
# En Zelensky sê Rusland moet nie beloon word vir sy aggressie nie
# Solidariteit sê dis in Suid-Afrika en Amerika se belang dat die geskil tussen die twee regerings dringend opgelos word. President Donald Trump van Amerika beskuldig Suid-Afrika van volksmoord teen Afrikaners en dat wit mense se grond onteien word. Solidariteit sê die eerste stap om die verhouding te normaliseer, is om onmiddellik ambassadeurs in albei lande aan te stel sodat die diplomatieke kanale heropen kan word. Hy sê die lande kan daarna ‘n gesamentlike taakspan aanstel om kleiner geskille te ondersoek en uit te klaar.
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu wat tans met spesiale verlof is, getuig na verwagting vandag voor die Madlanga-ondersoekkommissie. Hy word betrek by misdaadnetwerke en beskuldig dat hy sy politieke invloed gebruik om individue wat strafregtelik ondersoek word, te beskerm. Mchunu sê die bewerings teen hom is ongegrond. Die kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, sê hulle is besig met fase twee van die ondersoek, waar individue wat betrek word geleentheid kry om te verduidelik, of die bewerings teen hulle te verwerp:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad sê hy verskerp verkeersveiligheidsmaatreëls voor die stormloop gedurende die feesgety. Die raad sal as deel van die bekendstelling van die Hlokomela-veldtog, padwaardigheidstoetse, bewusmakingsveldtogte en ander programme in alle provinsies uitvoer. Rebecca Phala van Santaco sê hulle sal nou saamwerk met die regering, wetstoepassing en vennote in die burgerlike samelewing, om verantwoordelike reis te bevorder:
# Die Internasionale Pinkster-Heiligheidskerk sê pogings om sy leier, Michael Sandlana, te ondermyn, is polities gemotiveerd. Na sy arrestasie verlede week is Sandlana en drie ander aangekla van korrupsie en geldwassery, rakende bewerings dat ‘n regter met meer as twee-miljoen-rand omgekoop is om een faksie in die kerk te bevoordeel in ‘n opvolgingsgeskil. Die kerk maan sy lede om kalm en verenig te bly, aan te hou bid, en enige inmenging te verwerp wat daarop gemik is om beheer te kry oor kerkleierskap of bates.
# President Volodymyr Zelensky van Oekraïne sê sy land se fokus bly op veiligheidswaarborge en behoud van soewereiniteit en grondgebied. Hy het gister met die Franse president, Emmanuel Macron, by die Elysee-paleis in Parys beraadslaag terwyl pogings voortduur om Rusland se oorlog in Oekraïne te beëindig. Zelensky hou vol Rusland moenie beloon word vir sy aggressie teen Kiëf nie. Hy sê slegs Oekraïne kan besluite oor sy grondgebied neem, en veiligheidswaarborge kan nie sonder Oekraïne en die Europese Unie bespreek word nie.
# Motorsport: Red Bull het verskoning gevra vir opmerkings oor Mercedes-bestuurder Kimi Antonelli, waarin hulle beweer hy het doelbewus toegelaat dat Lando Norris van McLaren hom in Sondag se Katar Grand Prix se voorlaaste ronde verbysteek. Max Verstappen se wedren-ingenieur, Gianpiero Lambiase, sê dit wou voorkom of Antonelli bloot eenkant toe padgegee het sodat Norris kan verbygaan. Dit volg nadat die Italianer vierde plek aan die kampioenskapsleier afgestaan het. Red Bull sê hulle was beslis verkeerd en is jammer oor die aanlyn beledigings waaraan Antonelli sedertdien blootgestel is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-646-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-213-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….