Nuus 06:00
BULLETIN 2 Desember 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Uitspraak word voorbehou in Jacob Zuma se appèl teen die bevel oor die terugbetaling van regskoste
# Minister Motsoaledi sê Suid-Afrika kan nie Lenacapavir bekostig nie
# En rugby: Die Springbokke word gelukgewens met ‘n uitstekende 2025-seisoen
# Die Gautengse Hooggeregshof in Pretoria het uitspraak voorbehou in oudpresident Jacob Zuma se appèl teen ‘n uitspraak wat hom gelas om 28,9-miljoen-rand in staatsbefondsde regskoste terug te betaal. Die hof het Zuma in Oktober gelas om die geld terug te betaal en bevind die regskoste skend die beginsels van openbare aanspreeklikheid en die oppergesag van die reg. Tussen 2005 en 2019 het die staat Zuma se regskoste vir sy verdediging in die korrupsieverhoor gedek. Zuma se regspan het aangevoer dat dit nie regverdigbaar is dat die oudpresident aanspreeklik gehou moet word om hierdie bedrag te betaal nie.
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê Suid-Afrika kan tans nie bekostig om die duur Lenacapavir te koop en te versprei nie. Lenacapavir is ‘n revolusionêre, langwerkende inspuitbare middel wat ses maande se beskerming bied met slegs twee dosisse per jaar. Motsoaledi sê Suid-Afrika kry meer as driekwart van die LEN-dosisse wat die Globale Fonds aan nege lande skenk. Dit is egter steeds heelwat minder as wat nodig is om ‘n voldoende duik in nuwe MIV-infeksies te maak:
# Die Absa-aankoopbestuurdersindeks vir verlede maand het skerp gedaal tot 42 punte, 7,2 punte laer as Oktober, wat dui op ‘n algemene vertraging in vervaardigingsaktiwiteit. Nuwe verkoopsbestellings en sake-aktiwiteit het skerp gedaal, wat die swak binnelandse vraag weerspieël. Indiensneming het effens gestyg, maar bly steeds onder die neutrale 50-punt merk. Voorraad en verskaffersaflewerings het ook gedaal, hoewel laer aankooppryse, aangevuur deur ‘n sterker rand en goedkoper olie, druk kan verlig. Verwagte saketoestande het tot bo 50 punte gestyg, wat dui op beskeie optimisme vir die volgende ses maande.
# AfriForum sê die waterstelsel is in ‘n krisis, met munisipale ineenstorting, lekkende infrastruktuur en onbetaalde rekeninge wat watertariewe opjaag. Onlangse verslae deur waterrade toon dat munisipaliteite in KwaZulu-Natal daagliks meer as een-miljard liter water verloor, wat meer as ses-miljard-rand per jaar kos. Lambert de Klerk van AfriForum het die Nasionale Tesourie en die Departement van Water en Sanitasie versoek om onmiddellik op te tree deur lekkasies te herstel, aanspreeklikheid af te dwing en oplossings vanuit die gemeenskap te ondersteun om inwoners se watersekerheid te beskerm:
# Die seuns van Pakistan se voormalige premier Imran Khan, is bekommerd dat tronkowerhede iets wegsteek na meer as drie weke sonder enige aanduiding of hy nog leef. Sy seun, Kasim Khan, het aan Reuters gesê die familie het geen direkte of verifieerbare kontak met Khan gehad nie, ten spyte van ‘n hofbevel vir weeklikse ontmoetings. Die 72-jarige Khan is sedert Augustus 2023 in die tronk nadat hy op ‘n aantal aanklagte skuldig bevind is. Die familie sê die gebrek aan kommunikasie laat hulle bekommerd oor wat hulle beskryf as ‘n doelbewuste poging om Khan uit die openbare oog te hou.
# Rugby: Die president van SA Rugby, Mark Alexander, het Maandag die Springbokke geluk gewens met ‘n merkwaardige 2025-seisoen, onder meer die suksesvolle verdediging van die Rugbykampioenskap-titel, asook as ‘n tweede agtereenvolgende onoorwonne Uitgaande Toer na Europa. Alexander sê die span se opofferings, toewyding en onwrikbare verbintenis tot die taak het die nasie weereens verenig en miljoene geïnspireer. Hy sê die Springbokke het hulself ook met waardigheid en nederigheid as ware ambassadeurs van Suid-Afrika bewys. Alexander prys die Bokke vir hul veerkragtigheid, dissipline en spanwerk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-7-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 22-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-754-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-234-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….