Nuus 17:00
BULLETIN 1 Desember 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die saak oor die werwing van huursoldate vir Rusland is uitgestel vir borgtog
# Imogen Mashazi sê onreëlmatige ooreenkomste van verstandhouding is deur die EMPD-adjunkhoof onderteken
# En, City Power is onder druk met nat kabels wat wydverspreide kragonderbrekings veroorsaak
# Die senior SA fm-omroeper, Nonkululeko Mantula, en vier mans is in aanhouding oor hul beweerde betrokkenheid by ‘n geheime werwingskema van huursoldate vir Rusland. Hulle het in die Landdroshof in Kemptonpark verskyn en staan tereg op aanklagte ingevolge die Wet op die Regulering van Buitelandse Militêre Bystand. Die Valke se woordvoerder Katlego Mogale sê die saak is deel van ‘n breër ondersoek na Suid-Afrikaners wat gewerf word vir buitelandse gewapende konflikte en is tot 8 Desember uitgestel vir ‘n formele borgtogaansoek:
# Die voormalige Stadsbestuurder van Ekurhuleni, Imogen Mashazi, het aan die Madlanga-kommissie gesê die geskorste EMPD-adjunkhoof Julius Mkhwanazi het in Oktober 2021, sonder haar medewete, twee ooreenkomste van verstandhouding met Medicare 24 en CAT VIP Protection onderteken. Die transaksies betrek die omstrede sakeman Vusimusi ‘Cat’ Matlala, met bewerings dat Mkhwanazi gehelp het om Matlala se voertuie met blou ligte toe te rus. Sy sê die dokumente het nooit haar kantoor bereik nie en sy was onbewus van hul oorsprong en implementering:
# City Power is onder druk om eletrisiteit in Johannesburg te herstel nadat swaar storms en reën meer as twee-duisend-700 kragonderbrekings veroorsaak het. Die Northcliff-watertoring is deur weerlikg getref en oorstroomde paaie het herstelwerk vertraag. Roodepoort, Reuven en die binnestedelike gebiede is die ergste getref. Die woordvoerder van City Power, Isaac Mangena het inwoners aangespoor om beskadigde toerusting te vermy en elektrisiteit versigtig te gebruik terwyl spanne werk om die toevoer te herstel.
# Reddingspanne in westelike Indonesië sukkel om paaie skoon te maak wat na ‘n sikloon deur grondverskuiwings en vloede afgesny is, terwyl die omvang van die ramp duidelik word. Byna 700 mense is reeds in Suidoos-Asië dood. Volgens amptelike syfers is minstens 176 in Thailand en drie in Maleisië dood, terwyl die dodetal in Indonesië tot 502 gestyg het met 508 mense wat steeds vermis is. Die verwoesting volg na maande van ongunstige en dodelike weer. Wetenskaplikes waarsku uiterste weergebeurtenisse sal meer gereeld voorkom as gevolg van aardverwarming.
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, sê môre se internasionale vriendskaplike wedstryd in Marokko sal gebruik word om nuwe strategieë te toets en terugkerende spelers te evalueer. 2022 se kampioen van die Afrikabekertoernooi vir Vroue mik om onder die top-vier te eindig in volgende jaar se toernooi in Marokko. Dit dien as kwalifiseerders vir 2027 se Wêreldbekertoernooi. Ellis sê die span verfyn aanval én verdediging terwyl nuwer spelers waardevolle blootstelling kry:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 22-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-920-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-255-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….