Nuus 15:00
BULLETIN 1 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie gaan dié week getuienis van die geskorste Mkhwanazi en Mchunu aanhoor
# Thuli Madonsela is gewikkel in ‘n regsgeding oor haar oorlede lewensmaat se boedel van tien-miljoen-rand
# En padwedlope: Die Stad Johannesburg sê die Soweto-marathon was ‘n sukses
# Die Madlanga-kommissie sal dié week getuienis aanhoor van die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi, en die minister van Polisie, Senzo Mchunu. Woordvoerder Jeremy Michaels sê Mchunu sal môre getuig. Hy word beskuldig van politieke inmenging in polisie-optredes en die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde. Mkhwanazi sal die openbare verhore Vrydag afsluit. Michaels het herbevestig dat die kommissie se tussentydse verslag teen die 17de aan president Cyril Ramaphosa voorgelê sal word.
Intussen het Ekurhuleni se gewese stadsbestuurder, Imogen Mashazi, voor die kommissie getuig oor ‘n gespanne verhouding met burgemeester Nkosindiphile Xhakaza. Sy word daarvan beskuldig dat sy Mkhwanazi beskerm het. Mashazi beweer Xhakaza het ‘n ministeriële kwytskelding verhoed wat haar toegelaat het om eers op 65 af te tree. Sy het in Julie afgetree en gesê die stad het nooit haar uitstaande vergoeding betaal nie:
# Die voormalige openbare beskermer, Thuli Madonsela, is in ‘n regsgeskil gewikkel met die kinders van haar oorlede lewensmaat, Richard Foxton, oor sy boedel van tien-miljoen-rand. Die 82-jarige skakelbeampte is in Junie oorlede. Sy kinders betwis Madonsela se eis, wat haar genoop het om regstappe te doen. Kenners sê die geskil beklemtoon die ingewikkeldheid van boedelreg in Suid-Afrika, veral waar formele ooreenkomste of testamente onduidelik mag wees oor langtermyn-verhoudings.
# Padwedlope: Die Stad Johannesburg sê die naweek se Soweto-marathon was ‘n reusesukses wat 18-duisend atlete gelok het uit lande soos Suid-Afrika, Kenia, Frankryk en Zambië. Joseph Seutloali van Lesotho het die mansafdeling gewen en die tweede atleet geword wat die Twee Oseane- en die Soweto-marathon in dieselfde jaar kon wen. Margaret Jepchumba van Kenia het die vroueafdeling gewen. Burgemeester Dada Morero sê die marathon se groei toon wêreldwye vertroue in Soweto se vermoë en infrastruktuur om groot geleenthede aan te bied.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 22-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-460-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-252-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-91-sent per vat.
# En om mee af te sluit: Dis vandag Wêreld-Vigsdag. Die Departement van Gesondheid sê Suid-Afrika het groot vordering gemaak in die stryd teen MIV en Vigs. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê Suid-Afrika dra wêreldwyd steeds die grootste MIV-las met ʼn geraamde agt-miljoen mense wat die virus onder lede het. Hy sê sowat ses-miljoen mense ontvang lewensreddende behandeling:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….