Nuus 14:00
BULLETIN 1 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Thuli Madonsela is in ‘n regsgeding gewikkel oor haar oorlede lewensmaat se boedel van tien-miljoen-rand
# Die dodetal na Vrydag se sikloon in Sri Lanka styg tot 355
# En rugby: Die Blitsbokke is in ‘n moeilike groep vir die Kaapstadse Sewes
# Die voormalige openbare beskermer, Thuli Madonsela, is in ‘n regsgeskil gewikkel met die kinders van haar oorlede lewensmaat, Richard Foxton, oor sy boedel van tien-miljoen-rand. Die 82-jarige skakelbeampte is in Junie oorlede. Sy kinders betwis Madonsela se eis, wat haar genoop het om regstappe te doen. Kenners sê die geskil beklemtoon die ingewikkeldheid van boedelreg in Suid-Afrika, veral waar formele ooreenkomste of testamente onduidelik mag wees oor langtermyn-verhoudings.
# Die Gautengse Departement van Ekonomiese Ontwikkeling het honderdduisende rand bestee om ‘n eis van 150-duisend-rand te betwis vir ‘n waarnemingstoelaag aan ‘n voormalige werknemer van die Gautengse Dobbelraad, Lucky Lukhwareni. LUR Lebogang Maile het onthul dat die Arbeidshof die departement se saak op 18 Augustus van die hand gewys het. DA-woordvoerder Mike Moriarty het die hofsaak as verkwistend en oneties beskryf en sê die uitgawe is onaanvaarbaar terwyl provinsiale dienste sukkel om in burgers se behoeftes te voorsien:
Nuus uit die buiteland:
# Reddingswerkers in Sri Lanka skarrel steeds om strate op te ruim en hulp te lewer aan meer as ‘n half-miljoen mense na Vrydag se sikloon. Die dodetal het tot 355 gestyg, met 366 mense wat vermis word. Sikloon Ditwah het die eiland se ergste oorstromings in ‘n dekade meegebring en modderstortings in die heuwelagtige sentrale streek veroorsaak. President Anura Kumara Dissanayake sê dis die eerste keer dat so ‘n natuurramp die hele land tref, sowel as die grootste en mees uitdagende in sy geskiedenis.
# Rugby: Die gashere in die naweek se sewestoernooi in Kaapstad, Suid-Afrika, is saam met Nieu-Seeland, Fidji en Engeland in Groep A geloot. Die Blitsbokke het gister vyfde geëindig in Dubai toe Nieu-Seeland die seisoen se eerste toernooi gewen het. Groep B bestaan uit Argentinië, Australië, Frankryk en Spanje. Suid-Afrika is die verdedigende kampioen nadat hulle Frankryk in verlede jaar se eindstryd geklop het. In die vroueloting sal Nieu-Seeland se Black Ferns in Groep A teen Fidji, Amerika en Groot-Brittanje speel, terwyl Groep B bestaan uit Australië, Japan, Kanada en Frankryk.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-7-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-620-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-256-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-32-sent per vat.
# En ter afsluiting: Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Verloskunde en Ginekologie het sy verbintenis herbevestig tot vroue wat met MIV leef. Woordvoerder Ishmail Bhorat het op Wêreld-Vigs-dag Suid-Afrika se vordering met die voorkoming van ma-na-kind-oordrag benadruk en ook verwys na die behoefte aan vroeë voorgeboortesorg, MIV-toetsing, toegang tot voorbehoedmiddels, servikale kankerondersoek en holistiese reproduktiewe gesondheidsorg. Hy sê die vereniging vra stigma-vrye kliniese omgewings en moedig vroue en beleidmakers aan om aktief MIV-voorkoming, behandeling en omvattende reproduktiewe gesondheidsdienste te ondersteun:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….