Nuus 12:00
BULLETIN 1 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Water en Sanitasie het Jagersfontein se myn toegelaat om met bedrywighede voort te gaan ondanks die myndam-gevaar
# BLSA sê ‘n nuwe Direkteur van Openbare Vervolging sal die sake-omgewing vir die volgende dekade raak
# En rugby: Eben Etzebeth kan ‘n lang skorsing verwag ná sy rooikaart teen Wallis
# Die Departement van Water en Sanitasie het die Jagersfontein-myn in die Vrystaat toegelaat om voort te gaan met bedrywighede ondanks ‘n verdoemende verslag daarteen. Dit het gebeur voor die myn se dam in 2022 meegegee en gelei het tot die dood van twee mense, terwyl een steeds vermis word. Die verslag het onthul dat die bestuur moontlik van strukturele gevare geweet het, en dat die dam gebou is sonder ‘n geregistreerde ingenieursonwerp. Amptenare noem ekonomiese kommer, terwyl strafregtelike aanklagte in die Vrystaatse Hooggeregshof voortduur.
# Business Leadership South Africa sê die aanstelling van die volgende Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging is van kritieke belang vir die sakesektor, aangesien mislukkings in die oppergesag van die reg enorme transaksiekoste meebring. Die huidige direkteur, Shamila Batohi, se ampstermyn eindig volgende maand. Ses kandidate, insluitend advokate Hermione Cronjé, Andrea Johnson en Menzi Simelane, het die kortlys gehaal. BLSA se uitvoerende hoof, Busiswe Mavuso, sê die keuringspaneel moet ‘n kandidaat met aanklaer-ervaring en integriteit kies, maar strukturele hervormings is noodsaaklik om die volgende direkteur te bemagtig.
Nuus uit die buiteland:
# Die sekretaris van Oekraïne se nasionale veiligheidsraad, Rustem Umerov, sê die jongste vredesgesprekke met Amerika was produktief en suksesvol. Umerov, wat Kiëf se nuwe hoofonderhandelaar is, het in Florida vergader met Amerikaanse amptenare onder leiding van die minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio. Amptenare het gefokus op die hersiening van ‘n voorgestelde 28-punt-plan wat deur Washington en Rusland ontwikkel is. Umerov sê die vergadering se sukses spruit voort uit vorige gesprekke in Genève:
# Rugby: Die Springbok-slot Eben Etzebeth kan ‘n lang skorsing verwag nadat hy ‘n rooikaart gekry het in Saterdag se oorwinning van 73-0 oor Wallis in Cardiff. Hy is van die veld gestuur nadat hy tydens ʼn onderonsie sy duim in die Walliese flank, Alex Mann, se oog gesteek het. Wêreldrugby se regulasies bepaal die minimum-straf vir oogkontak is ʼn skorsing van 12 weke, en die maksimum meer as 24 weke. In uiterste gevalle kan dit tot vier jaar duur, maar dis hoogs onwaarskynlik in Etzebeth se geval.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-7-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 22-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-518-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-252-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-34-sent per vat.
# En laastens: Kaapstad sê die pas-aangestelde Belê in Kaapstad-ambassadeurs sal bydra om die metro se sake- en beleggingsprofiel in die buiteland te bevorder. Die program se eerste groep beroepslui kom uit ʼn verskeidenheid sektore soos die kunste, toerisme en geleenthede, tegnologie, en uitkontraktering van sakeprosesse. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese groei, James Vos, sê Kaapstad het tussen Januarie en Julie 2023 744 regstreekse projekte in buitelandse belegging ontvang, wat neerkom op ʼn kapitaal-inspuiting van 114,76-miljard-rand:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….