Nuus 11:00
BULLETIN 1 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verwerp berigte van komplotte om Ramaphosa te verwyder
# Die SAKP beskuldig sekere faksies in die ANC dat hulle sy lede teister
# En rugby: Eben Etzebeth kan ‘n lang skorsing verwag ná sy rooikaart teen Wallis
# Die ANC verwerp wat hy noem ongegronde en sensasionele bewerings in Sunday World, wat ‘n verdeelde leierskap uitbeeld met ʼn komplot om president Cyril Ramaphosa te verwyder. Adjunkministers Mondli Gungubele en Joe Phaahla word beskuldig dat hulle die leiers van die komplot is. Die ANC sê die stories wil skeiding veroorsaak wat tans nie bestaan nie. Die party sê hy staan by sy sending van vernuwing wat in eenheid gewortel is, diens aan landsburgers en die versterking van etiese en verantwoordbare demokratiese bestuur.
Die SAKP beskuldig intussen sekere faksies binne die ANC dat hulle sy lede teiken in die voortslepende samewerkingsgeskil oor volgende jaar se munisipale verkiesing. Die SAKP gaan die eerste keer ʼn verkiesing op sy eie aandurf, maar die ANC sê dis nie in die alliansie se beste belang nie. Die SAKP se hoofsekretaris, Solly Mapaila, sê die strategiese perspektief van sy verkiesingsprogram is om die munisipale sfeer te betree en die werkersklas se verteenwoordiging uit te brei:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, en adjunkminister Mkhuleko Hlengwa het Suid-Afrika se terugkeer na die Raad van die Internasionale Maritieme Organisasie aangekondig, ‘n setel wat Suid-Afrika laas in 2021 beklee het. Suid-Afrika is nou die enigste lidland van die Suider-Afrika-ontwikkelingsgemeenskap op die raad. Die ministerie se woordvoerder, Collin Msibi sê die land sal sy strategiese maritieme posisie benut om Afrika se stem in globale maritieme bestuur te versterk en besluite oor veiligheid, volhoubaarheid en skeepvaartbeleid te beïnvloed:
# President Donald Trump sê sy waarskuwing oor die Venezolaanse lugruim was nie ‘n teken dat ‘n lugaanval op hande is nie. Hy het onlangs gewaarsku dat land-aanvalle teen dwelmsmokkelnetwerke binnekort kan plaasvind, en dat die lugruim bo Venezuela in sy geheel gesluit sal word. Trump sê hy het die lugruim-waarskuwing uitgereik omdat Amerika Venezuela as nie ‘n baie vriendelike land beskou nie:
# Rugby: Die Springbok-slot Eben Etzebeth kan ʼn lang skorsing verwag nadat hy ‘n rooikaart gekry het in Saterdag se oorwinning van 73-0 oor Wallis in Cardiff. Hy is van die veld gestuur nadat hy tydens ʼn onderonsie sy duim in die Walliese flank, Alex Mann, se oog gesteek het. Wêreldrugby se regulasies bepaal die minimum-straf vir oogkontak is ʼn skorsing van 12 weke, en die maksimum meer as 24 weke. In uiterste gevalle kan dit tot vier jaar duur, maar dis hoogs onwaarskynlik in Etzebeth se geval.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-169-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-236-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….