Nuus 09:00
BULLETIN 1 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verwerp bewerings van ‘n komplot om president Cyril Ramaphosa uit die kussings te lig
# ‘n Noodtoestand is in Sri Lanka afgekondig na meer as 300 sikloonverwante sterftes
# En gholf: Deon Germishuys wen die Fitch & Leedes PGA-kampioenskap
# Die ANC verwerp wat hy noem ongegronde en sensasionele bewerings in die Sunday World, wat ‘n verdeelde leierskap uitbeeld met ʼn komplot om president Cyril Ramaphosa te verwyder. Adjunkministers Mondli Gungubele en Joe Phaahla word beskuldig dat hulle die leiers van die komplot is. Die ANC sê die stories wil skeiding veroorsaak wat tans nie bestaan nie. Die party sê hy staan by sy missie van vernuwing wat in eenheid gewortel is, diens aan landsburgers en die versterking van etiese en verantwoordbare demokratiese bestuur.
# Adjunkpresident Paul Mashatile doen ʼn beroep op parlemente in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap om wetgewing, oorsig en openbare deelname in reaksie op klimaatsverandering te versterk. Hy het gister die 58ste voltallige vergadering van die SAOG Parlementêre Forum toegespreek. Mashatile sê die gevolge van klimaatsverandering, soos droogtes, uiterste weerstoestande soos oorstromings en siklone, grondverswakking en veranderende reënvalpatrone belemmer volhoubare ontwikkeling in die SAOG en raak veral vroue en die jeug:
# Die Vryheidsfront Plus het die Ekurhuleni-metroraad se besluit verwelkom om die omstrede Tarief A.2 basiese heffing amptelik te herroep. Die heffing het ‘n vaste maandelikse elektrisiteitstarief op huishoudings, pensioenarisse en lae-verbruikers gehef. Jennifer Glover van die VF-Plus sê vandat die tarief ingestel is, het hulle gewaarsku dat dit onbekostigbaar is, openbare deelname onvoldoende was en ernstige regulatoriese en finansiële risiko’s inhou:
# Die regering van Sri Lanka het ‘n noodtoestand afgekondig ná oorstromings en grondverskuiwings wat deur Sikloon Ditwah veroorsaak is, en wat die lewens van 334 mense geëis het. Meer as 200 mense word vermis. President Anura Kumara Dissanayake sê die verwoesting is so erg dat die beraamde herstelwerk ingrypend sal wees. Intussen het swaar reënval, wat wydverspreide oorstromings en grondverskuiwings in Indonesië, Maleisië en Thailand veroorsaak het, meer as 700 sterftes veroorsaak. Kenners sê die klimaatkrisis het stormpatrone beïnvloed, insluitend die duur en intensiteit van die moesonseisoen.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Deon Germishuys het sy derde Sonskyntoer-titel opgeraap toe hy die Fitch & Leedes PGA-kampioenskap by St Francis Links in die Oos-Kaap gewen het. Met ʼn laaste ronde van 69 het hy Suid-Afrika se tweede oudste beroepsgholftoernooi met 14 onder baansyfer gewen, een hou voor sy landgenote Samuel Simpson en Hennie du Plessis. Germishuys, wat sy DP World Tour-kaart verloor het, sê die oorwinning beteken baie vir hom:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 22-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-942-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-239-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….