Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 01 Desember 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa is vasbeslote dat Suid-Afrika in 2026 aan die G20 sal deelneem. Hy het standpunt ingeneem teen president Donald Trump se voorneme om Suid-Afrika uit te sluit.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig Ramaphosa sê ten spyte van die misverstande tussen Suid-Afrika en die VSA reik die land steeds ‘n hand van vriendskap uit. Hy het ook harde woorde gehad vir diegene wat waninligting oor Suid-Afrika in die buiteland versprei.
Tweedens skryf die webblad ‘n vyfde verdagte is in hegtenis geneem vir die beweerde werwing van Suid-Afrikaanse huursoldate om teen Oekraïne te veg. Die verdagte sal vandag saam met vier ander in die Kemptonpark-landdroshof verskyn.
En laastens word berig die 77-jarige At Mahne van die Baltimore-distrik in Limpopo is tydens ‘n plaasaanval vermoor. Sy vrou, die 74-jarige Pietro, is aangerand en die rowers het vuurwapens en kontant gesteel.
GAUTENG:
# Sowetan:
Berig ook Ramaphosa het opnuut standpunt ingeneem teen die VSA-leier en hy sê Suid-Afrika sal voortgaan om aan die G20 deel te neem. Die president sê die land sal Amerika steeds met respek en waardigheid skakel.
# En The Citizen:
Skryf daar heers ‘n kinderkrisis in Suid-Afrika en ‘n nuwe swangerskaptoelaag, wat twee-miljard-rand sal kos, sal moeders help om gesonde en veilige omstandighede vir hul babas te skep.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig twee mense is dood toe hul ligte vliegtuig gister langs die N7 neergestort het. Die vlieënier en passasier het na bewering ‘n toetsvlug onderneem toe die ongeluk gebeur het.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n 15-jarige seun van Diazville wat in die see verdrink het en oor ‘n video van ‘n vierjarige kind wat bier drink, wat opslae maak.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig Eskom is weer besig om na planne te kyk om ‘n kernreaktor by Thyspunt tussen Kaap St Francis en Oesterbaai op te rig.
En tweedens is daar nuus oor nuwe planne om die sogenaamde Apple Express treinroete te heropen.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Berig daar is groeiende kommer oor die werwing van Suid-Afrikaanse huursoldate om teen Oekraïne te veg. Die regering het nou ‘n dringende ondersoek aangevra.
En tweedens skryf die koerant al is dit somer, is sommige munisipale swembaddens steeds gesluit.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Swapo het weer koning gekraai in die pas afgelope plaaslike verkiesing, maar byna ’n halfmiljoen geregistreerde kiesers het nie vanjaar vir plaaslike owerheidsleiers gestem nie.
En tweedens skryf die koerant Namibië se voorstelle by Cites CoP20 in Oezbekistan om streng gereguleerde handel in renosterhoring en ivoor toe te laat, is verwerp.