Nuus 06:00
BULLETIN 1 Desember 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika se G20-presidentskap het ’n groot uitwerking gehad
# Suid-Afrika gelas ‘n dringende ondersoek na die werwing van huursoldate
# En krieket: Indië klop Suid-Afrika in hul eerste eendagwedstryd
# President Cyril Ramaphosa sê die uitwerking van Suid-Afrika se G20-presidentskap strek verder as die hartlike verwelkoming vir en die onvergeetlike ervaring van besoekers. Hy het die nasie gisteraand ingelig oor die sukses van die G20-leiersberaad, die eerste wat op Afrika-bodem gehou is. Hy sê Suid-Afrika het Afrika se groei en ontwikkeling in die hart van die G20 se agenda geplaas en dit gedoen terwyl die wêreld ingewikkelde uitdagings in die gesig staar:
Ramaphosa sê ook die verklaring wat tydens die G20-leiersberaad aanvaar is, is ‘n duidelike aanduiding dat die gees van multilaterale samewerking lewendig en sterk is. Die verklaring is met oorweldigende konsensus aangeneem tydens die beraad wat verlede naweek in Johannesburg gehou is. Ramaphosa sê hulle kon deur samewerking met die leiers van G20-lande ‘n ooreenkoms bereik oor sommige van die kwessies wat die groei en ontwikkeling van Suid-Afrika en Afrika terughou:
# Die Presidensie het ondersoekbeamptes opdrag gegee om ondersoek in te stel oor hoe Suid-Afrikaanse mans gewerf is vir vermeende huursoldaatrolle in die Rusland-Oekraïne-konflik. Sewentien mans is gestrand in die onbestendige Donbas-streek nadat hulle met beloftes van goedbetaalde sekuriteitsposte om die bos gelei is. Die woordvoerder van die Presidensie, Vincent Magwenya, het aan News24 gesê die mans het noodoproepe gemaak, wat tot dringende diplomatieke optrede gelei het. Vyf verdagtes is in hegtenis geneem en sal vandag in die Kemptonpark-landdroshof verskyn vir die beweerde oortreding van die Wet op Buitelandse Militêre Bystand.
# Die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Edward Kieswetter, het ‘n beroep gedoen dat alle individue wat betrek word by die Madlanga-kommissie en die parlementêre ad hoc-komitee oor beweerde korrupsie, vervolg word. Nadat hy die Kathy-toekenning ontvang het, het Kieswetter in gesprek met Newzroom Afrika gewaarsku dat korrupsie die SAID en openbare fondse bedreig. Hy het die owerhede aangespoor om staatsamptenare en omkoopgeldbetalers aanspreeklik te hou en die noodsaaklikheid om integriteit te herstel, beklemtoon:
# Die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede vergader hierdie week om die kortlys van kandidate vir die Nasionale Raad vir Geslagsgeweld en Vrouemoord saam te stel. Die vergadering was aanvanklik vir verlede Vrydag geskeduleer, maar parlementslede het meer tyd versoek om dokumente en kandidate se motiveringsbriewe deur te werk. Die raad sal na verwagting ‘n sleutelrol speel in die versterking van die nasionale reaksie op geslagsgeweld en vrouemoord terwyl dit langtermyn-voorkomingstrategieë sal bepaal.
# Krieket: Die 37-jarige Virat Kohli het geskitter tydens Indië se oorwinning van 17 lopies oor Suid-Afrika in die eerste eendagwedstryd in Ranchi. Hulle loop nou met 1-0 voor in die reeks van drie wedstryde. Kohli het 135 lopies van 120 balle aangeteken, sy 52ste honderdtal in die formaat, terwyl die gashere ‘n uitdagende totaal van 349 vir agt in hul 50 boulbeurte aangeteken het. In antwoord het Matthew Breetzke 72 lopies aangeteken terwyl Kuldeep Yadav vier paaltjies geneem het, en die Proteas vir 332 uitgeboul is. Die tweede eendagwedstryd word Woensdag in Raipur gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 22-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-146-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-227-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….