Nuus 13:00
BULLETIN 29 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Polisie waarsku die ontbinding van die politieke taakspan het verreikende gevolge
# Die Democrats Abroad striem Trump se vyandigheid teenoor Pretoria
# En rugby: Die Bokke is vasbeslote om die seisoen op ‘n hoë noot af te sluit teen Wallis
# Die waarnemende adjunk- nasionale polisiekommissaris, Hilda Senthumule, het die ernstige gevolge van polisieminister Senzo Mchunu se besluit om die politieke moorde-taakspan te ontbind, uiteengesit. Senthumule het voor die Madlanga-kommissie getuig die skuif het voortgesette ondersoeke ontwrig en speurders wat met die taakspan verbind was, geraak. Sy het gewaarsku die ontbinding van die eenheid het ‘n breër uitwerking op die bestendigheid van polisiëringsbedrywighede:
# Die Verkiesingskommissie het sy Tweede Kwartaal Politieke befondsingsverslag vir die 2025/26-jaar vrygestel, wat meer as 2,4-miljoen-rand in verklaarde skenkings toon. Vier partye het verslae ingedien, met ActionSA en die DA wat ten volle voldoen het, terwyl die ANC en die Inkatha Vryheidsparty uitgewys is vir nie-nakoming. Die DA het die hoogste skenking van 1,2-miljoen-rand ontvang, gevolg deur ActionSA, die ANC en die IVP. Die kommissie sê algehele skenkings is onder die laagste sedert die begin van die raamwerk.
# Adjunkpresident Paul Mashatile het 21 jaar van die Toivo Tshabalala Trust en 40 jaar sedert die afsterwe van die MK-soldaat Vincent ‘Toivo’ Tshabalala herdenk. Mashatile het tydens die Trust se Onderwys-gholfdinee en -fondsinsameling in Johannesburg gesê die organisasie bly ‘n kragtige huldeblyk aan Tshabalala se toewyding aan onderwys en gelykheid. Hy het beklemtoon dat die Trust steeds gemeenskappe ophef deur beurse, leierskapsprogramme en inisiatiewe wat gehalte-onderwys vir almal bevorder:
# ‘n Liggaam wat Amerikaanse burgers verteenwoordig wat in Suid-Afrika woon, het president Donald Trump se vyandige buitelandse beleid teenoor Pretoria veroordeel as “verdelend en vyandig”. Democrats Abroad South Africa het Trump se inkorting van buitelandse hulp aan Suid-Afrika en sy straftariewe oor “ongegronde bewerings” van rassediskriminasie teen die wit Afrikanergemeenskap gekritiseer. Die liggaam sê Amerikaanse burgers in Suid-Afrika weet eerstehands dat die bewerings ongegrond is en ‘n dieper, kommerwekkende agenda dien wat gewortel is in Wit Oppergesag en Wit Christelike Nasionalisme.
# En laastens sportnuus:
# Rugby: Springbok-hulpafrigter Mzwandile Stick en kaptein Siya Kolisi sê die Bokke is vasbeslote om hul seisoen op ‘n hoë noot af te sluit wanneer hulle later vandag teen Wallis op die Principality-stadion in Cardiff te staan kom. Indien die Bokke die wedstryd wen, sal dit die tweede agtereenvolgens seisoen wees dat hulle skoonskip maak in hul jaareindtoer. Kolisi sê hulle weet die Walliesers gaan alles in die stryd werp, en die Bokke sal daarom met intensiteit moet begin. Stick het Kolisi se sentimente gedeel en gesê hulle verwag ‘n moeilike wedstryd. Die wedstryd skop vanmiddag om 10 oor 5 af.
# En motorsport: Oscar Piastri het bevestig dat hy weer goed op dreef is om sy titelaanslag lewend te hou toe hy gister die voorste wegspringplek ingepalm het vir vandag se snelwedren by die Katar Grand Prix. Die Australiër, wat 24 punte agter sy McLaren-spanmaat Lando Norris in die bestuurderskampioenskap is, het die beste tyd behaal voor George Russell van Mercedes. Die kampioenskapsvoorloper Norris het derde vinnigste geëindig te midde van sterk mededinging in die snelren-kwalifiseringsessie. Die viermalige kampioen Max Verstappen, wat gelyk is met Piastri in die drieledige-titelstryd, was sesde in sy Red Bull.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….