Nuus 11:00
BULLETIN 29 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkminister Letsike vra vir strenger vonnisse in statutêre verkragtingsake
# Die polisie begin met ’n soektog nadat twee Ivory Park-beamptes vermoor word
# En Airbus hok sesduisend A320’s wêreldwyd oor foutiewe beheersagteware
# Die Adjunkminister in die Presidensie vir Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede, Steve Letsike, vra vir strenger vonnisse in statutêre verkragtingsake. Die jongste statistieke dui daarop dat minstens 117-duisend meisies tussen tien en 19 jaar in die afgelope boekjaar geboorte geskenk het. Sy sê die syfers stem nie ooreen met statutêre verkragtingsverslae nie, wat onder 20-persent bly. In ‘n onderhoud met SABC News waarsku Letsike dat onbeplande en gedwonge swangerskappe jong mense se toekoms verwoes:
# Die polisie in Gauteng het ‘n dringende soektog van stapel gestuur nadat twee beamptes van Ivory Park doodgeskiet en ontwapen is terwyl hulle aan diens was in Uitbreiding 9. Die verdagtes het gevlug met twee polisie-pistole, ‘n geweer en selfone. Die provinsiale kommissaris Tommy Mthombeni het gespesialiseerde eenhede ontplooi om hulle op te spoor. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe het voortgesette aanvalle op beamptes veroordeel en waaksaamheid beklemtoon aangesien ses polisiebeamptes tussen April en September vanjaar vermoor is:
# Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, dring aan op onmiddellike stappe om die skuldigbevindingsyfers vir bende-, vuurwapen- en dwelmmisdade te verbeter nadat die jongste kwartaallikse misdaadstatistieke hoë geweldmisdaad toon. Die Burgemeesterskomiteelid, Lyndon Khan sê die stad bied hulpbronne aan, insluitend dossiere wat gereed is vir vervolging, beamptes van die Wetstoepassing se Bevorderingsplan en Metropolisie ondersteuning. Hy sê die waarnemende minister van Polisie word versoek om munisipale polisiëringsmagte uit te brei en die SAPD dringend te bemagtig om skuldigbevindings te verbeter:
# President Volodymyr Zelensky se magtige personeelhoof, Andriy Yermak, het gister bedank, ure nadat teen-korrupsie-agente sy huis deursoek het. Yermak het Oekraïne se pogings gelei om standpunt in te neem teen die voorwaardes wat deur die VSA voorgestel is en wat aan baie van Moskou se gebieds- en veiligheidsvereistes voldoen. Yermak is ‘n goeie vriend van Zelensky sedert die president se dae as ‘n TV-komediant en het gehelp om sy suksesvolle verkiesingsveldtog in 2019 te lei. Sedertdien het die 54-jarige die posisie as hoofbesluitnemer ingeneem, met baie kritiek tuis en in die buiteland as onverkose raadgewer met buitensporige mag.
# Krieket: Die Warriors is deur na die eindronde van Krieket Suid-Afrika se T20-uitdaagreeks nadat hul wedstryd teen die Dolphins op St George’s Park gisteraand uitgereën het. Hulle sal teen Boland in die Paarl meeding om die titel. Die Warriors en die Dolphins het slegs kans vir vyf boulbeurte en drie balle gehad voordat weerlig en reën spel gestaak het. Volgens die reëls het die Warriors gekwalifiseer omdat hulle voor die Dolphins in die tweede plek in die groepfase geëindig het. Boland het Dinsdag hul plek in die eindronde verseker met ‘n naelskraapse vyf lopie-oorwinning oor die Warriors.
# En ten slotte: Airbus het sesduisend A320-vliegtuie teruggeroep om dringend beheersagteware wat kwesbaar is vir sonstraling te vervang. Die Europese lugreus waarsku teen wêreldwye vlugontwrigtings op die vooraand van vakansiereise. Die stap volg na ‘n voorval in Oktober waar ‘n JetBlue-vlug gedwing is om ‘n noodlanding te doen na kommer oor datakorrupsie. Die meeste vliegtuie sal binne ure opgedateer word, maar ongeveer eenduisend benodig hardewarevervanging wat weke kan neem. Airbus het om verskoning gevra vir die ongerief, terwyl reguleerders beklemtoon dat passasiersveiligheid die topprioriteit bly.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….