Nuus 07:00
BULLETIN 29 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Shamila Batohi sê die publiek se vertroue in die regstelsel is op die spel
# ‘n Israelse aanval in suidelike Sirië eis die lewens van 13
# En, Johannesburgse motoriste word gewaarsku oor padsluitings vir die Soweto-marathon
# Die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Shamila Batohi, het by die Nkabinde-ondersoek gesê die publiek se vertroue in die regstelsel is op die spel. Batohi het tydens die ondersoek getuig ernstige rooi vlae in die hantering van voormalige KwaZulu-Natalse Valke-hoof, Johan Booysen, se afpersingsmagtigings haar aangespoor het om die 2019 De Kock-paneel aan te stel. Sy sê die paneel het bevind die magtigings was onwettig en dat prosesse onreëlmatig was:
# Rise Mzansi sê Suid-Afrikaners is steeds onveilig met geweldsmisdaad en georganiseerde misdaad wat toeneem. Die party waarsku die polisie sukkel om doeltreffend te reageer, met meer as 60 moorde wat daagliks aangemeld word en meer as 100 verkragtings elke dag. Voorvalle van massamoorde was tussen Januarie en Junie op 328 wat meer as een-duisend-100 slagoffers geëis het. Makashule Gana van Rise Mzansi doen ‘n beroep vir beter bronne vir speurders, verbeterde misdaadintelligensie en veiliger polisiestasies om gemeenskappe te beskerm:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het Ithuba Loterye se dringende aansoek om die oorhandiging van die nuwe loterylisensie aan Sizekhaya Holdings te verhoed, van die hand gewys. Die uitspraak baan die weg vir Sizekhaya om in Junie volgende jaar as die nuwe operateur oor te neem. Ithuba, die naaswenner in die tenderproses, sal volgende jaar sy hoofhersiening van die lisensie voortsit. Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging ondersoek steeds bewerings van politieke verbintenisse in die toekenning van die lisensie, insluitend dié van die skoonsuster van adjunkpresident Paul Mashatile.
# Dertien mense is gister dood in ‘n Israelse aanval in die suide van Sirië. Volgens die Siriese staatsmedia beskuldig Damaskus Israel van ‘n aanval in ‘n dorp waar Israel sê sy troepe het onder skoot gekom tydens ‘n operasie om militante in hegtenis te neem. Die Israelse weermag sê militante het ses soldate gewond, drie van hulle ernstig, tydens die aanval in die dorp Beit Jinn. Israel het Sirië gereeld gebombardeer toe president Bashar al-Assad aan bewind was en het sy militêre operasies in die land verskerp nadat hy uit die kussings gelig is.
# Rugby: Vandag se toets tussen Suid-Afrika en Wallis is waarskynlik net daarop gemik om geld te maak. Albei spanne het baie van hulle eerstekeuse-spelers verloor omdat die toets buite die internasionale venster val. Wallis, wat slegs twee van sy laaste 20 toetse gewen het, het egter dringend geld nodig en gaan dit regkry deur die wêreldkampioen na Cardiff te lok. Hulle gaan volgens berigte miljoene maak uit die kragmeting op die Principality-stadion. Niemand gee Wallis ‘n kat se kans teen die wêreld-nommer-een sonder 13 van hulle beste spelers nie.
# En ten slotte: Die Johannesburgse Metropolisie het aangekondig daar sal vandag groot padsluitings wees voor die Soweto-marathon. Paaie het vanoggend om 4-uur gesluit en sal tot 3-uur vanmiddag toe wees, insluitend die Soweto-snelweg, Randskou-weg, Nasrec-weg, Chris Hani-weg, Vilakazi-straat, Hoofrifweg en Union-weg. Bykomende sluitings raak Riverlea, Orlando, Diepkloof, Pimville, Rockville, Jabulani, Central, Wes-Jabavu, Mofolo, Dube en Kliptown. Metrobeamptes sal in die stad ontplooi word om tydens die geleentheid die verkeer te monitor. Motoriste word versoek om versigtig te bestuur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….