Nuus 18:00
BULLETIN 28 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die waarnemende adjunk-Polisiekommissaris kritiseer die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde
# Action Society waarsku die misdaadstatistieke ontbloot die ineenstorting van basiese wetstoepassing
# En, AfriForum eis die afwenteling van polisiemagte na die jongste misdaadsyfers
# Die Waarnemende adjunk-nasionale kommissaris van Polisie vir Misdaadopsporing, Hilda Senthumule, sê die ontbinding van die politieke moordtaakspan het nie die korrekte prosedure gevolg nie. Sy het aan die Madlanga-kommissie verduidelik dat 121 Politieke Moorde Taakspan-dossiere na die polisiehoofkwartier oorgeplaas is, maar moes onder provinsiale beheer gebly het. Senthumule het die geskorste adjunk-nasionale kommissaris Shadrack Sibiya se swak hantering van die besluit gekritiseer omdat hy die onmiddellike oorhandiging van die dossiere gelas het:
# Action Society sê basiese wetstoepassing in Suid-Afrika het misluk, met geweldsmisdaad wat steeds baie hoog is. Meer as elf-duisend-500 moorde en meer as 19-duisend verkragtings is tussen April en September aangeteken. Die organisasie waarsku bewusmakingsveldtogte of rampverklarings sal nie help nie, tensy die polisie werkende stelsels, opgeleide beamptes en werkende forensiese dienste het. Juanita du Preez van Action Society vra dat herhaalde oortreders strenger dopgehou word om vroue en kinders te beskerm:
# Afriforum sê provinsiale wetstoepassing is dringend nodig nadat die polisie die misdaadstatistiek vir 2025/26 vrygestel het. Die oraganisasie glo desentralisering sal politieke inmenging verhoed soos voor die Madlanga-kommissie blootgelê is. Woordvoerder Jacques Broodryk het die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, se standpunt teen politieke magsmisbruik verwelkom. Hy sê die afwenteling van wetstoepassing sal toerekenbaarheid, spoed, plaaslike misdaadreaksie en samewerking met gemeenskapsveiligheidsgroepe verbeter:
# Rugby: SA Rugby se president, Mark Alexander, sê die organisasie ondervind ‘n skitterende geldjaar al het unies verlede jaar ‘n ekwiteitsaanbod van 1,2-miljard-rand deur die Ackley-sportgroep van die hand gewys. Hy het in Johannesburg gesê kommersiële bedrywighede het met 74-persent gestyg. Alexander glo volgende jaar se geskiedkundige toere sal inkomste ook ‘n groot hupstoot gee. Hy sê SA Rugby is finansieel bestendig tot 2027 terwyl hy sy hele rugbystruktuur hersien:
# Reddingspogings het geëindig in die Wang Fuk-behuisingsontwikkeling in Hongkong waar minstens 128 mense dood is in Woensdag se brand – die ergste in die Chinese gebied in byna 80 jaar. Die stad se sekuriteitshoof Chris Tang sê sowat 200 mense word nog vermis en minstens 79, waaronder 12 brandbestryders, is beseer. Die kompleks het meer as vier-duisend-600 inwoners gehad. Dit was met bamboes-steierwerk en groen gaasmateriaal bedek vir opknappingswerk. Drie werknemers van ‘n konstruksiemaatskappy is in hegtenis geneem vir vermeende manslag weens die gebruik van onveilige materiaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 22-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-639-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-196-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….