Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 28 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê as hy ‘n volledige groep gehad het, sou hy nie ʼn verdeling van 7-1 op die bank gekies het vir môre se kragmeting met Wallis nie. Albei spanne moet sonder eerstekeuse-spelers klaarkom omdat die wedstryd buite die toetsgleuf val. Die skrumskakel Cobus Reinach, wat die enigste agterspeler op die bank is, kan moontlik die 50ste keer vir die nasionale span uitdraf. Erasmus sê hulle het maar ʼn dobbelsteen gegooi omdat hulle net 24 spelers het:
Suid-Afrika en Wallis gaan intussen môre ‘n onbekende faktor in die middel hê. Die taamlik onbekende Franse skeidsregter, Luc Ramos, sal in sy eerste Springboktoets blaas. Hy word bygestaan deur sy landgenoot Pierre Brousset en die Engelsman Matthew Carley, wat vyf kaarte aan Ierland uitgedeel het in verlede naweek se nederlaag teen Suid-Afrika. ‘n Oorwinning sal die Bokke onoorwonne laat nadat hulle reeds ook vir Japan, Frankryk en Italië geklop het. Afskop op die Principality-stadion is tien oor vyf die middag.
Die blitsige Shilton van Wyk is intussen gretig om die Springbok-sewes ‘n vinnige begin in Dubai te gee wanneer die nuwe wêreldreeks môre in die Verenigde Arabiese Emirate afskop. Die Blitsbokke is in Groep A saam met Argentinië, Fidji en Frankryk. Van Wyk het vier jaar gelede sy buiging vir Suid-Afrika gemaak op dieselfde toernooi. Hy sê hulle besef hulle moet vinnig begin en van die begin oorheers in môre se eerste wedstryd teen Frankryk om die seisoen op ‘n hoë noot af te skop.
# Sokker: Twee Suid-Afrikaners sal wedstryde hanteer tydens die Afrikabekertoernooi wat op 21 Desember in Marokko begin. Abongile Tom en Zakhele Siwela is ingesluit op die finale lys van 28 skeidsregters en 31 lynregters, saam met 14 video-wedstrydbeamptes. Siwela is ‘n veteraan met sewe Afcon-toernooie op sy kerfstok en was ook skeidregter tydens die vorige twee Wêreldbeker-toernooie. Tom het tydens die vorige Afcon-toernooi geblaas en was ook skeidsregter vir die onlangse Wêreldbeker-kwalifiseerder tussen Gaboen en Nigerië in Rabat.
# En motorsport: Max Verstappen van Red Bull is op soek ‘n driekuns in die naweek se Katarse Grand Prix, terwyl vanjaar se Formule Een-wêreldkampioenskap kookpunt bereik in die Arabiese Golf. Dit lyk onwaarskynlik dat hy ‘n agterstand van 24 punte sal inhaal wat hom en Lando Norris van McLaren skei voor die laaste twee wedrenne van die seisoen. Norris sal in Katar aankom as die gunsteling om sy eerste titel te verower en McLaren se eerste dubbel-titel te beklink sedert Mika Hakkinen se sukses in 1998.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….