Nuus 09:00
BULLETIN 28 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering stel transformerende inisiatiewe in om plaaslike regering te ondersteun
# Die MK-party kritiseer die regbank oor die vertraging in die Phala Phala-uitspraak
# En rugby: Gregor Townsend behou sy posisie as Skotland-afrigter tot die Wêreldbeker-toernooi
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die regering is daartoe verbind om ‘n bevoegde, etiese en ontwikkelingsgerigte staat te vestig. Hy het gister die hoofrede gelewer op die laaste dag van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering se Nasionale Ledevergadering in KwaZulu-Natal. Mashatile sê inisiatiewe soos Operasie Vulindlela se tweede fase sit die regering se strategie uiteen om ekonomiese uitdagings aan te spreek en plaaslike regerings te ondersteun:
# Die MK-party sê hy is ontsteld oor die regstelsel se ongeërgde houding oor die uitspraak in die Phala Phala-saak wat al ʼn jaar lank sloer. Die EFF vra ʼn bevel om die Parlement se besluit om nie die bevindings van die onafhanklike Artikel 89-paneel te aanvaar nie, om te keer. Die paneel het bevind president Cyril Ramaphosa moet antwoorde gee oor die inbraak op sy Limpopo-wildplaas in 2020. Die MK-party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, sê die vertraging is deel van ʼn kommerwekkende patroon van selektiewe geregtigheid:
# ActionSA in Tshwane verwelkom die afhandeling van die forensiese ondersoek na onderburgemeester Eugene Modise. Die metro het vroeër vanjaar ʼn ondersoek gelas na Modise en Triotic Protection Services ná beskuldigings dat die onderburgemeester voordeel trek uit ʼn maatskappy wat met die metro sake doen. Die ondersoek het blykbaar bevind daar is wel ʼn botsing van belange. ActionSA-woordvoerder Henriette Frohlich sê die bevindings sal hanteer word:
# Die Russiese president Vladimir Putin sê die oorlog in Oekraïne sal net eindig wanneer soldate terugtrek uit gebiede wat Moskou beset. Dit sluit in die suidelike Krim-Skiereiland wat in 2014 annekseer is, en die oostelike Donbasstreek. Die geannekseerde gebiede, saam met veiligheidwaarborge vir Oekraïne is die belangrikste knelpunte tussen Moskou en Kiëf. Putin sê die Amerikaanse vredesplan kan die grondslag vorm van ‘n toekomstige ooreenkoms om die oorlog te beëindig. Hy het bygevoeg dis noodsaaklik om spesifieke punte in diplomatieke taal te bespreek.
# Rugby: Die rugby-afrigter van Skotland, Gregor Townsend, sal aanbly as nasionale afrigter tot na die Rugbywêreldbeker, nadat die hoof van Skotse Rugby, Alex Williamson, hom as die “beste man vir die taak” verklaar het. Townsend is onder druk na sy span se louwarm vertoning in die Herfsnasies-reeks, waar hulle die VSA en Tonga geklop het, maar teen beide Nieu-Seeland en Argentinië verloor het nadat hulle in ‘n posisie was om albei daardie belangrike wedstryde te kon wen. Townsend is hewig gekritiseer deur die media en ondersteuners wat voel hy het die nasionale span so ver geneem as wat hy kan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-396-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-185-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….