Nuus 07:00
BULLETIN 28 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa wysig die sperdatum vir die Madlanga-kommissie se tussentydse verslag
# AfriForum sê die Parlement ondermyn omgewingsbeskerming
# En minstens 94 is dood en honderde word vermis in die Hongkong-inferno
# President Cyril Ramaphosa het die Madlanga-ondersoekkommissie se termyn verleng en die sperdatum vir die tussentydse verslag is nou 17 Desember. Die kommissie het gewaarsku voortslepende vertragings ontwrig sy skedule en kan verhoed dat die tussentydse verslag voorgelê word. Die kommissie is tans besig met sy tweede fase waar getuies reageer op bewerings teen hulle. Hilda Senthumule, wat verantwoordelik is vir Misdaadopsporing en Forensiese Dienste in die SAPD, is vandag in die getuiebank oor die 121 dossiere wat met die taakspan oor politieke moorde verband hou.
# AfriForum het kommer uitgespreek oor die parlementêre portefeuljekomitee oor Minerale en Petroleumhulpbronne se voorstel dat tydlyne vir omgewingsgoedkeuring verkort word. Hy sê dit kan veroorsaak dat korttermyn- ekonomiese voordele die uitwerking van mynbedrywighede op die omgewing en gemeenskappe oorskadu. Marais de Vaal van AfriForum sê die komitee se oproep dat goedkeuring vir mynbedrywighede vinniger plaasvind, gaan rampspoedige gevolge inhou vir waterbronne, landbougrond en die langtermynwelstand van landelike gemeenskappe:
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra die regering om die verlies van opgeleide opvoeders te stuit, waardigheid aan die onderwysberoep te herstel en seker te maak elke leerder het toegang tot gehalte-onderwys. Die Minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het vroeër in ‘n parlementêre antwoord onthul meer as 30-duisend opvoeders het Suid-Afrika se openbare skole die afgelope vyf jaar verlaat. Die vakbond vra die Departement om dringend ‘n strategie te skep om opvoeders te behou, werklas- en veiligheidskwessies en salarisverskille aan te spreek, en te oorweeg om die byna 13-duisend werklose onderwysers op die Nasionale Werwingsdatabasis in vakante poste te ontplooi.
# Die DA in Tshwane sê hy gaan ‘n bedrogsaak aanhangig maak teen onderburgemeester Eugene Modise. Die metro het vroeër vanjaar ʼn ondersoek gelas na Modise en Triotic Protection Services ná beskuldigings dat die onderburgemeester voordeel trek uit ʼn maatskappy wat met die metro sake doen. ʼn Finale ondersoekverslag oor die saak is gister aan die raad voorgelê. Jacqui Uys van die DA sê die verslag bevestig dat Modise gereeld die gedragskode vir raadslede oortree:
# Ten minste 94 mense is dood, en drie mense is in hegtenis geneem vir beweerde manslag, nadat ‘n brand ‘n hoë behuisingskompleks in Hongkong verswelg het. Owerhede sê byna 300 mense word nog vermis na die brand by Wang Fuk Court in Tai Po. Nog 76 slagoffers is in ‘n kritieke toestand in die hospitaal, met ongeveer 900 mense wat in skuilings gehuives word. Die leier van Hongkong, John Lee, het Donderdag gesê die regering sal ‘n fonds van 700-miljoen-rand skep om inwoners te help.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner, Samuel Simpson, het agt onder baansyfer 64 aangeteken om na die eerste ronde voor te loop by die Fitch & Leedes PGA-kampioenskap by St Francis Links in die Oos-Kaap. Hy is twee houe voor sy landgenoot, Hennie du Plessis se 66. Vier spelers is gelykop derde, die Suid-Afrikaners Bryce Easton, Hayden Griffiths en Ruan Groenewald, en Joe Long van Engeland. Simpson sê ʼn goeie wedstrydplan is onontbeerlik vir hierdie baan:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-931-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-191-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….