Nuus 12:00
BULLETIN 27 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Onsekerheid heers oor die ampstermyn van die Parlement se ad hoc-komitee wat na verwagting môre eindig
# Hoofregter Maya plaas die korrupsie-beskuldigde regter Phahlane op spesiale verlof
# En krieket: Die Proteas se geskiedkundige oorwinning oor Indië verbeter hul posisie in die Wêreldtoetskampioenskap
# Die Parlement se ad hoc-komitee het nog nie insette vanaf die speaker, Thoko Didiza, ontvang oor die verlenging van sy ampstermyn nie. Die komitee stel ondersoek in na bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, oor inmenging in die polisie en die regstelsel, en sal na verwagting môre sy ampstermyn afsluit. Didiza het voorheen ‘n verlenging toegestaan om die komitee toe te laat om sy werk te kan afhandel. Lede sê hulle benodig bykomende tyd om bewyse te beoordeel en uitstaande getuienisse te oorweeg voor hulle hul verslag voltooi.
# Hoofregter Mandisa Maya het ‘n regter van die Gautengse Hooggeregshof, Portia Phahlane, met onmiddellike ingang op spesiale verlof geplaas, hangende die uitslag van ‘n strafsaak teen haar. Phahlane en drie medebeskuldigdes word aangekla van korrupsie en geldwassery. Sy het na bewering meer as twee-miljoen-rand se omkoopgeld ontvang om te beslis ten gunste van een faksie in die International Pentecostal Holiness Church se opvolgstryd. Maya sê die ongekende inhegtenisneming van ʼn regter is uiters kommerwekkend, maar bewys terselfdertyd die land se wetstoepassings-meganismes om aanspreeklikheid te verseker, is doeltreffend.
# Die DA vra alle werkgewers in die onderwyssektor om onmiddellike en gekoördineerde stappe te doen om agtergrond-ondersoeke te versterk. Dit is om te verseker niemand word in enige skoolomgewing aangestel as hul name op die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders of die Nasionale Kinderbeskermingsregister verskyn nie. Die DA-lid, Nazley Sharif, sê ‘n uiters kommerwekkende onthulling onlangs in die Parlement is dat meer as 60 opvoeders in register- en polisie-klaringsprosesse genoem word.
Nuus uit die buiteland:
# Die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, sê daar is geen teken van ware bereidwilligheid van Rusland om die konflik met Oekraïne te beëindig nie. Dit volg terwyl Amerika pogings verskerp om ‘n ooreenkoms tussen Kiëf en Moskou te bemiddel met sy 28-punt-vredesplan. Von der Leyen sê enige vredesooreenkoms moet streng veiligheidswaarborge insluit, en Oekraïne se soewereiniteit moet gehandhaaf word. Sy voeg by Rusland het sedert die begin van die oorlog nog nie sy strategie verander nie:
# Krieket: Suid-Afrika se geskiedkundige toetsreeksoorwinning oor Indië plaas hom in die tweede plek in die huidige Wêreldtoetskampioenskap wat tot 2027 strek. Die verdedigende kampioen het Indië in die tweede toets in Guwahati met 408 lopies verslaan vir ‘n reeksoorwinning van 2-0, hul eerste in Indië in 25 jaar. Australië is boaan die ranglys met vier oorwinnings in vier toetse, met Sri Lanka derde en Pakistan vierde. Indië het na die vyfde plek afgeskuif met vier oorwinnings uit nege wedstryde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-358-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-162-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….