Nuus 11:00
BULLETIN 27 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie sê Suid-Afrika waardeer nie beledigings oor sy deelname aan globale platforms nie
# Die MK-party verwelkom die Openbare Beskermer se besluit om Ramaphosa te ondersoek
# En krieket: Die Proteas se geskiedkundige oorwinning oor Indië verbeter hul posisie in die Wêreldtoetskampioenskap
# Die Presidensie sê Suid-Afrika is ʼn soewereine, grondwetlike demokratiese land en is nie beïndruk dat ʼn ander land die waarde van sy deelname aan globale platforms bevraagteken nie. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het gesê Suid-Afrika sal nie genooi word na volgende jaar se G20-leiersberaad in Florida nie omdat die regering weier om menseregteskendings teen Afrikaners te erken. President Cyril Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Suid-Afrika sal nie ʼn ander land of sy stand in die wêreld beledig nie:
Die MK-party het intussen die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka, se besluit verwelkom om Ramaphosa te ondersoek oor bewerings van beweerde oortredings van die Uitvoerende Gedragskode. Die bewerings hou verband met oortredings van klousules oor magsmisbruik, onbehoorlike gedrag en optrede wat strydig is met uitvoerende verantwoordelikhede. Die party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, sê Ramaphosa het by verskeie geleenthede versuim om in Suid-Afrika se beste belang op te tree:
# Hoofregter Mandisa Maya het ʼn regter van die Gautengse Hooggeregshof, Portia Phahlane, met onmiddellike ingang op spesiale verlof geplaas, hangende die uitslag van ‘n strafsaak teen haar. Phahlane en drie medebeskuldigdes word aangekla van korrupsie en geldwassery. Sy het na bewering meer as twee-miljoen-rand se omkoopgeld ontvang om te beslis ten gunste van een faksie in die International Pentecostal Holiness Church se opvolgstryd. Maya sê die ongekende inhegtenisneming van ʼn regter is uiters kommerwekkend, maar bewys terselfdertyd die land se wetstoepassings-meganismes om aanspreeklikheid te verseker, is doeltreffend.
Nuus uit die buiteland:
# Die Afrika-unie en die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrika-state veroordeel die militêre oorname in Guinee-Bissau. ʼn Groep Weermagoffisiere wat na hulself as die Hoë Militêre Bevel vir die Herstel van Orde verwys, het gister ʼn staatsgreep in die land uitgevoer. Hulle het ook die bekendmaking van die presidentsverkiesing se uitslag opgeskort. Die AU en ECOWAS veroordeel wat hulle beskryf as ʼn blatante poging om die demokratiese proses en die vooruitgang wat bereik is, te ontwrig.
# Krieket: Suid-Afrika se geskiedkundige toetsreeksoorwinning oor Indië plaas hom in die tweede plek in die huidige Wêreldtoetskampioenskap wat tot 2027 strek. Die verdedigende kampioen het Indië in die tweede toets in Guwahati met 408 lopies verslaan vir ‘n reeksoorwinning van 2-0, hul eerste in Indië in 25 jaar. Australië is boaan die ranglys met vier oorwinnings in vier toetse, met Sri Lanka derde en Pakistan vierde. Indië het na die vyfde plek afgeskuif met vier oorwinnings uit nege wedstryde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-141-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-157-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….