Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 27 November 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig SKOOR gaan strafregtelike klagtes indien teen die voormalige hoof van die Padongelukkefonds. Dit volg nadat Collins Letsoalo doelbewus ‘n dagvaarding geïgnoreer het en nie voor die komitee verskyn het nie.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig in president Donald Trump se jongste tirade teen Suid-Afrika het hy verklaar dat die land nie volgende jaar welkom sal wees by die G20 nie en dat hy finaal alle geldkrane toedraai. Hy het gesê wit mense word doodgemaak en hul plase lukraak afgevat.
Dan skryf die webblad oor regter Portia Phahlane wat saam met haar seun aangekla word dat sy omkoopgeld van die International Penticost Holiness Church ontvang het om in sy guns te beslis. Phahlane sê die klagtes is bloot ‘n vendetta teen haar.
En laastens is daar nuus oor Suid-Afrika se kampioen-vlerkpakvlieër, die 35-jarige JJ Wallis wat teen die hange van Leeukop verongeluk het. Wallis het meer 20 jaar ondervinding in lugsport gehad. Die Burgerlugvaartowerheid sal die ongeluk ondersoek.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ook oor die aanklag teen regter Phahlane. Sy en haar seun, Kagiso is op borgtog vrygelaat.
En tweedens word berig die Gautengse regering ontken daar is ‘n voedseltekort in hospitale.
# Sowetan:
Lei met: “LOOK WHAT THE CAT DRAGGED IN”. Die koerant berig die moordbeskuldigde sakeman, Vusimuzi “Cat” Matlala het in sy getuienis voor die ad hoc-komitee getuig hy het 500-duisend-rand aan die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele, betaal en ook beweer Cele het onder eed gelieg in sy getuienis.
# En The Citizen:
Skryf ook oor Matlala en hoe hy daarin geslaag het om ‘n polisietender van 360-miljard-rand in die hande te kry.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die dood van die Suid-Afrika se kampioen-vlerkpakvlieër, JJ Wallis.
En tweedens word berig oor Koos en Martelize van den Heever van Chrissiesmeer in Mpumalanga. ‘n Reuseboom het op hul huis geval en Koos kon daarin slaag om sy vrou uit die bourommel te red.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die hoofsweep van die DA in die Buffalo City-metro, Anathi Majeke het ‘n saak by die polisie aanhangig gemaak nadat sy dreigoproepe ontvang het. Sy is na bewering gedreig om nie die ANC in die media te kritiseer nie,
En tweedens skryf die koerant die inwoners en sakegemeenskap van Buffalo City is omgekrap oor die nuwe elektrisiteitstariewe wat aangekondig is.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ‘n katolieke priester in Mbumbulu, Mthokozisi Khanyile is vermoor vir kerkkollekte. Daar is bewerings in die gemeenskap dat hy moontlik vergiftig is.
En tweedens berig die koerant ook oor Matlala se getuienis voor die ad hoc-komitee.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig kiesers was gister landswyd traag om in die plaaslike owerheids- en streekraadverkiesing te stem met baie stemlokale wat deur die dag grootliks leeg was.
En tweedens skryf die koerant die ministerie van Finansies het 66 bykomende jeugprojekte onder die Nasionale Jeugontwikkelings-fonds goedgekeur met finansiering van meer as 37,75-miljoen-rand wat aan ondernemings in al 14 streke toegeken is.