Nuus 06:00
BULLETIN 27 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile sê bilaterale betrekkinge tussen Suid-Afrika en Finland het versterk
# Vusimuzi “Cat” Matlala beweer hy het Bheki Cele 500-duisend-rand gegee
# En krieket: Verskeie Protea-vroue is vandag deel van die Vroue-premierligaveiling
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die verhouding tussen Suid-Afrika en Finland bly warm, hartlik en opbouend. Hy het gister ‘n bilaterale vergadering met Finland se eerste minister, Antti Petteri Orpo, in Pretoria gehou. Hy sê Finland het sedert die aanbreek van demokrasie ‘n betekenisvolle bydrae gelewer deur handel en beleggings. Mashatile sê waterbestuur en digitalisering bly sentrale pilare vir bilaterale samewerking. Hy sê die SA-Finland-verhouding, het benewens sterk bilaterale bande, toenemend ontwikkel tot ‘n vennootskap ter ondersteuning van Afrika se breër ontwikkelingsprioriteite.
# Die misdaadbeskuldigde sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala het voor die parlementêre ad hoc-komitee beweer die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele het onder eed gelieg. Die bewerings is deel van ‘n voortgesette ondersoek na politieke inmenging en onreëlmatige gedrag in polisiëring. Matlala het onder polisiebewaking by die Kgosi Mampuru maksimum-sekuriteitsgevangenis in Tshwane getuig hy het 500-duisend-rand in twee betalings aan Cele gegee, en die geld moes verklaar word as hul vergadering vir navorsingsdoeleindes was:
# Die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Shamila Batohi, sê die voormalige nasionale adjunkdirekteur van Openbare Vervolging, Nomgcobo Jiba, het in 2012 aanklagte van afpersing teen die voormalige hoof van die KwaZulu-Natalse Valke, Johan Booysen, en die Cato Manor-eenheid, sonder die nodige bewyse gemagtig. Batohi het tydens die Nkabinde-ondersoek na die geskorste direkteur van Openbare Vervolging in Gauteng, Andrew Chauke, se geskiktheid vir die amp, gesê ‘n belangrike verklaring deur die Cato Manor-bevelvoerder, Rajen Aiyer, was eers beskikbaar, weke nadat Jiba opgetree het:
# Die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake in KwaZulu-Natal, Thulasizwe Buthelezi, het provinsiale rampbestuurspanne op hoë gereedheidsgrondslag geplaas met die inwerkingstelling vandag van ‘n vlak vier-weerwaarskuwing. Swaar reën, sterk winde, hael en moontlike oorstromings word in verskeie distrikte, insluitend Umgungundlovu, Ugu, Amajuba, Harry Gwala en eThekwini verwag. Senzelwe Mzila van die departement het inwoners in laagliggende gebiede aangeraai om na hoër grond te beweeg en om nie vinnig vloeiende water oor te steek nie:
# Frankryk se hoogste hof het Woensdag voormalige president Nicolas Sarkozy se skuldigbevinding aan onwettige veldtogfinansiering vir sy mislukte herverkiesingsbod in 2012 gehandhaaf. Dit is sy nuutste regsterugslag nadat hy onlangs vir byna ‘n maand in die tronk was vir ‘n ander saak. Sarkozy, wat van 2007 tot 2012 een termyn as president gedien het, is in 2021 en ook in 2024 skuldig bevind aan onwettige veldtogfinansiering vir die verkiesing. Die 70-jarige is op 21 Oktober tronk toe nadat hy in ‘n aparte saak skuldig bevind is aan pogings deur noue medewerkers om Libiese fondse vir sy presidensiële veldtog in 2007 te werf.
# Krieket: Altesaam 277 spelers is te koop op vandag se veiling vir volgende jaar se Vroue-premierliga in Indië. Dit sluit 194 plaaslike spelers en 83 buitelanders in. Onder die Suid-Afrikaners wat opgeraap kan word, is die Protea-kaptein, Laura Wolvaardt, wat groot belangstelling kan verwag na haar briljante vertoning by die onlangse eendag-Wêreldbekertoernooi, haar spanmaats Tazmin Brits, Lizelle Lee, Ayabonga Khaka, Nonkululeko Mlaba, Anneke Bosch, Chloé Tryon en Suné Luus, asook die veteraan Shabnim Ismael. Die toernooi begin op 11 Februarie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-489-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-167-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….