Nuus 18:00
BULLETIN 26 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Shamila Batohi sê voor Nkabinde-ondersoek Andrew Chauke het belangrike aanklaersbesluite geneem, en nie net as koördineerder nie
# Die DA sê Panyaza Lesufi het uiterlike voorkoms gedurende die G20 bo die ellende van inwoners gekies
# En, minstens 13 mense is dood en 15 beseer in ‘n reusebrand in ‘n Hongkong-behuisingskompleks
# Die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Shamila Batohi, het aan die Nkabinde-ondersoek gesê die geskorste Direkteur van Openbare Vervolging vir Gauteng, Andrew Chauke, het ‘n sentrale rol in belangrike aanklaersbesluite gespeel en was nie bloot ‘n koördineerder nie. Batohi het beëdigde verklarings en interne memorandums voorgelê wat Chauke se sentrale rol in die Cato Manor-afpersingsaak aandui, insluitend strategiese besluite in die appèlproses, wat sy direkte betrokkenheid by belangrike besluite beklemtoon:
# Die DA sê premier Panyaza Lesufi se bevestiging dat die provinsiale regering waarskynlik nie sal voortgaan met diensleweringstandaarde soos voor die G20-beraad nie, is ‘n belediging vir die inwoners van Johannesburg. Solly Msimanga van die DA sê ten spyte van beloftes in die Provinsiale Rede om slaggate reg te maak en Johannesburg skoon te maak, het Lesufi uiterlike voorkoms bo dienslewering geprioritiseer:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Minerale en Petroleumbronne verwelkom die vordering met die Mynbou-grondregisterstelsel ná sy eerste fase in die Wes-Kaap en sê dis belangrik vir die verbetering van lisensiëring. Die stelsel is ‘n akkurate register van eienaarskap, ligging en die waarde van grond en eiendomme. Lede sê dit voorkom dubbele lisensiëring, steun kleinskaalse mynwerkers en verbeter deursigtigheid vir gasheergemeenskappe. Daar is egter bekommernisse oor data-integriteit en langdradige goedkeuringsprosesse aangesien van hulle tot 350 dae kan neem. Die departement sê hulle is besig om omgewingsprosesse te stroomlyn.
# Minstens 13 mense is dood en 15 beseer in ‘n reusebrand wat woonstelblokke in die Tai Po-distrik van Hongkong verswelg het. Meer as 700 brandbestryders is op die toneel om die brand te bestry by Wang Fuk Court wat ongeveer vierduisend-600 inwoners huisves. Wang Fuk Court bestaan uit agt toringblokke, wat elk 31 verdiepings hoog is. Die toringblokke, wat in 1983 gebou is, word tans opgeknap, en die buitekant van die geboue was bedek met bamboes-steierwerk. Beeldmateriaal toon hoe die brand vinnig deur die bamboes op sewe van die agt torings versprei het.
# Sokker: FIFA het die 2026 Wêreldbeker se trekkingformaat verander wat beteken die topvier lande, Spanje, Argentinië, Frankryk en Engeland ontmoet mekaar eers in die halfeindronde. By vorige wêreldbekers is spanne se pad in en deur die uitklopfase bepaal deur die groep waarin hulle na die trekking beland het. Die trekking vind op 5 Desember in Washington plaas. Hier word 48 spanne in vier potte geplaas waar hulle in 12 groepe van vier spanne getrek word. Suid-Afrika is in pot drie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 22-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-278-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-143-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….