Nuus 17:00
BULLETIN 26 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vusimuzi ‘Cat’ Matlala bevestig sy aandeelhouding in Medicare terwyl SAPD tenderondersoek verdiep
# Die Activists and Citizens Forum eis die onmiddellike arres van Paul O’Sullivan
# En, daar is geen planne om Engeland se rugbyafrigter, Steve Borthwick se kontrak ná 2027 te hernu nie
# Die omstrede sakeman Vusimuzi ‘Cat’ Matlala het vandag vanuit die Kgoši Mampuru-gevangenis getuig. Hy het aan die parlementêre ad hoc-komitee bevestig die SAPD-mediese kontrak is aan Tshwane Medicare 24 toegeken terwyl hy steeds as direkteur van die maatskapy gelys was. Hy het ook erken dat hy nie die SAPD in kennis gestel het van sy bedanking nie:
# Activists and Citizens Forum vra die onmiddellike inhegtenisneming van die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan. Dit volg nadat die gewese waarnemende polisiekommissaris, Khomotso Phahlane, gesê het O’Sullivan het hom ‘n dreigende boodskap gestuur na ‘n TV-onderhoud. Die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, se personeelhoof, Cedrick Nkabinde, beweer ook hy het ‘n intimiderende boodskap van O’Sullivan ontvang. Dennis Bloem van die forum sê O’Sullivan boelie en intimideer mense al vir te lank:
# Die Nasionale Loterykommissie en die Departement Handel, Nywerheid en Mededinging bied ‘n tweedaagse nasionale indaba aan in Boksburg, Gauteng. Kommissaris Jodi Scholtz sê die geleentheid fokus op doeltreffende regulering, befondsing deur digitalisering, en maatskaplike dialoog. Die indaba is daarop gemik om vertroue te herstel, deursigtigheid te verbeter en organisasies sonder winsbejag te steun. Sy het teenoor die SABC bevestig ‘n aanlyn toelaestelsel is begin om bedrog teen te werk en kuns-, sport- en welsynsorganisasies te help:
# Dele van Thailand sukkel met rekordvloede, waarin minstens 33 mense dood is, met militêre skepe en helikopters wat ontplooi is om noodlenigingspogings te ondersteun. Mediese spanne sal ‘n vliegdekskip in ‘n drywende hospitaal omskep indien nodig. Tien provinsies in die suide van die land is die afgelope week getref, met die sakekern van Hat Yai wat sy swaarste reënval in 300 jaar aangeteken het – 335-millimeter binne ‘n enkele dag. Swaar seisoenale reën is algemeen in die gebied, maar vanjaar word gekenmerk daar rekordvloedvlakke.
# Rugby: Die uitvoerende hoof van die Rugbyvoetbalunie, Bill Sweeney, sê daar is geen onmiddellike planne om Engeland se afrigter, Steve Borthwick, se kontrak te hernu wanneer dit na 2027 se Wêreldbeker-toernooi verstryk nie. Hy is in Desember 2022 aangestel en het toesig gehou oor die span se ommeswaai van sewende tot derde op die wêreldranglys. Engeland staan tans op 11 agtereenvolgende oorwinnings. Sweeney sê hulle steun Borthwick se afrigtingspan en is tevrede met die speelstyl wat hy ontwikkel het en die diepte van die span.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-635-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-159-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….