Nuus 15:00
BULLETIN 26 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die geskorste adjunkhoof van Ekurhuleni se Metropolisie vra uitstel van sy getuienis
# Swem: Kanada se mees bekroonde Olimpiese swemmer, Penny Oleksiak, is vir twee jaar geskors
# En die Amerikaanse Federale Lugvaartowerheid ondersoek ‘n ongeluk van Amazon se hommeltuig
# Die geskorste adjunkhoof van Ekurhuleni se Metropolisie, Julius Mkhwanazi, het gevra om môre se verskyning voor die Madlanga-kommissie uit te stel. Hy word verdink van wangedrag, medepligtigheid aan ‘n moord in Brakpan en die bestuur van ‘n geheime eenheid wat betrokke is by afpersing, ontvoering en onreëlmatige bevorderings. Mkhwanazi het glo ook ooreenkomste onderteken om die metropolisie se bloulig-hulpbronne aan die omstrede sakeman Vusimusi ‘Cat’ Matlala te verskaf. Die hoofgetuienisleier, Matthew Chaskalson, sê die volgende getuie sal Vrydag verskyn:
Die kommissie het intussen ook die getuienis van generaal-majoor Lesetja Senona van die Valke tot 27 Januarie uitgestel. Hy het bykomende tyd gevra om voor te berei nadat hy verbind is met die infiltrasie van die polisie- en justisiestruktuur. Die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, het Senona daarvan beskuldig dat hy Matlala bygestaan het om ‘n omstrede polisietender van 360-miljoen-rand te bekom. Die kommissie se voorsitter, Mbuyiseli Madlanga, het die ooreenkoms tussen Senona en die getuienisleiers bevestig:
# Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging hou sy jaarlikse nasionale ledevergadering in Durban. Leiers van die land se 257 munisipaliteite vergader om aandag te skenk aan dienslewerings-uitdagings voor volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing. SALGA se president, Bheke Stofile, sê die fokus sal wees op die verbetering van inkomstebestuur en die versterking van munisipale vermoë. Hy het teenoor SABC News beklemtoon sterker finansiële dissipline en doeltreffende dienslewering is noodsaaklik vir volhoubare plaaslike bestuur:
# Swem: Die Internasionale Toetsagentskap het Kanada se mees bekroonde Olimpiese swemmer, Penny Oleksiak, vir twee jaar geskors. Sy het by drie geleenthede versuim om beamptes wat vir verbode middels toets, in te lig oor waar sy haar bevind. Die 25-jarige swemmer wat sewe Olimpiese medaljes gewen het, mag eers op 14 Julie 2027 weer deelneem. Swem Kanada se uitvoerende hoof, Suzanne Paulins, sê atlete moet bekendmaak waar hulle hul bevind en betyds voorleggings indien om reëls oor verbode middels na te kom en sodoende straf te vermy.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 22-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-893-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-162-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-79-sent per vat.
# En laastens: Die Amerikaanse Federale Lugvaartowerheid gaan Amazon ondersoek nadat een van sy hommeltuie ‘n oorhoofse internetkabel getref het in Sentraal-Texas. Die tuig het uit ʼn kliënt se erf opgestyg nadat dit ʼn pakkie afgelewer het toe een van sy skroewe in die kabel verstrengel geraak het. ʼn Woordvoerder van die owerheid het die ondersoek bevestig. Die voorval volg nadat federale ondersoekers ʼn afsonderlike ondersoek in Arizona begin het waar twee van Amazon se hommeltuie teen ʼn hyskraan gebots het in Tolleson naby Phoenix.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….