Nuus 09:00
BULLETIN 26 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verwelkom die positiewe kredietgradering vir Eskom
# Die DA gaan ’n strafregtelike klagte teen Duduzile Zuma-Sambudla indien
# En Brasilië se voormalige president Jair Bolsonaro word beveel om met sy vonnis van 27-jaar te begin
# Die ANC verwelkom S&P Global Ratings se positiewe besluit oor Eskom se kredietgradering en sê dit bevestig die geleidelike vordering om die betroubaarheid en finansiële bestendigheid van die kragverskaffer te verbeter. Die graderingsagentskap het Eskom se langtermyn- globale en plaaslike gradering van stabiel na positief aangepas. Die ANC se nasionale woordvoerder, Mahlengi Bhengu, sê dit dui op die uitwerking van die ANC-NUK se Energie-aksieplan van 2023 wat 264-miljard-rand ingesluit het om Eskom se balansstaat te laat klop:
# Die DA doen ‘n beroep op burgemeester Nasiphi Moya om dringend die Stad Tshwane se weiering vir die hersiening van ‘n terugwerkende salarisverhoging van twee-miljard-rand aan personeel te heroorweeg. Die DA-burgemeesterskandidaat Cilliers Brink voer aan dat die Stad nie die betaling kan bekostig nie en waarsku oor ‘n dreigende kontantvloeikrisis wat vier-miljoen inwoners raak. Met die naderende sperdatum van 14 Desember, sê Brink litigasie is nodig. Hy beklemtoon dat die Stad ‘n verpligting het teenoor inwoners wat belasting, tariewe en heffings betaal:
# Die Minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, het ‘n span gestuur om amptenare in KwaZulu-Natal by te staan om huishoudings wat deur die onlangse swaar reën by die Umshwati-munisipaliteit geraak is, by te staan. Die voorlopige assessering dui daarop dat ongeveer 400 mense geraak is, waarvan byna 200 kinders en 163 vroue. Die departement se woordvoerder, Tsekiso Machike, het gemeenskappe versoek om nie strukture op vloedlyne te bou of in gebiede wat geneig is tot oorstromings nie:
# Die Hooggeregshof in Brasilië het oudpresident Jair Bolsonaro beveel om sy tronkstraf van 27 jaar te begin uitdien. Die 70-jarige Bolsonaro is in September skuldig bevind dat hy in 2022 ‘n staatsgreep beplan het om sy voorganger, president Luiz Inacio Lula da Silva, uit die kussings te lig. Bolsonaro is sedert Augustus onder huisarres en is Saterdag voorkomend in hegtenis geneem nadat hy probeer het om sy elektroniese enkelband af te sny. Die Hooggeregshof-regter Alexandre de Moraes sê geen verdere appèlle is moontlik nie.
# Sokker: Manchester City het hul eerste tuisnederlaag in sewe jaar gely in die Kampioeneliga-groepfase toe hulle in die Etihad-stadion met 2-0 deur Bayer Leverkusen verras is. Doele deur die kaptein, Alejandro Grimaldo, en Patrik Schick het ‘n onvergeetlike oorwinning vir die Bundesliga-span verseker. Chelsea het Barcelona met 3-0 verslaan toe dié span met tien spelers moes speel,en het na die boonste agt op die tabel opgeskuif, terwyl nóg ‘n span in die Premierliga, Newcastle United, met 2-1deur Marseille geklop is. Juventus, Borussia Dortmund, Benfica en Napoli het ook hul wedstryde gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-17 sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 22-rand-65 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-203 dollar. Die prys van goud is vier-duisend-162 dollar per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-3-sent per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….