Nuus 11:00
BULLETIN 25 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verkla Duduzile Zuma-Sambudla by die Parlement se Etiekkomitee oor die beweerde mensehandel van Suid-Afrikaners aan Rusland
# Siviele skuldsake het in September met 6,6-persent verminder
# En rugby: Die Bokke se skrum-afrigter sê die kragmeting met Wallis is ‘n geleentheid vir die jonger spelers
# Die DA het ‘n parlementslid van die MK-party, Duduzile Zuma-Sambudla, by die Parlement se Etiekkomitee verkla. Dit volg nadat haar suster, Nkosazana Bongamini Zuma-Mncube, haar en nog twee mense daarvan beskuldig het dat hulle ‘n rol gespeel het om 17 jong Suid-Afrikaanse mans onder valse voorwendsels na Rusland te laat reis, waar hulle gedwing is om in die oorlog teen Oekraïne te veg. Chris Hattingh van die DA sê die party gaan ook ‘n strafregtelike saak teen Zuma-Sambudla by die polisie aanhangig maak:
# Statistieke Suid-Afrika het ‘n afname in siviele skuldsake aangeteken van Julie tot September vanjaar. Siviele dagvaardings het met 6,6-persent verminder en siviele vonnisse met 6,5-persent in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. Vhonani Kwinda van Statistieke SA sê ondanks minder sake, dui die algehele waarde van siviele vonnisse dat meer skuld verhaal is:
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het bewerings verwerp dat die uitreiking van ‘n verslag wat bendes se infiltrasie in top-polisiestrukture in die provinsie bevestig, polities bereken is. ‘n Ondersoek is van stapel gestuur nadat regter Daniel Thulare van die Wes-Kaapse Hooggeregshof in 2022 in ‘n uitspraak gewaarsku het die 28’s-bende het die polisie se top-geledere geïnfiltreer en selfs toegang tot vergaderings met die provinsiale polisiekommissaris, Thembisile Patekile, en sy senior bestuurders verkry. Winde sê die verslag is uitgereik weens ‘n toenemende krisis met openbare vertroue in wetstoepassing.
# Rugby: Die Springbokke se skrumafrigter, Daan Human, sê Saterdag se toets teen Wallis in Cardiff is nog ‘n geleentheid vir jonger spelers om indruk te maak. Albei spanne speel sonder verskeie eerstekeuse-spelers omdat die wedstryd buite die internasionale gleuf val. Die Bokke het sover die seisoen 11 van hul 13 toetse gewen, terwyl Wallis slegs twee van hul tien wedstryde kon wen. Human sê die afwesigheid van sekere spelers sal nie die span ontwrig nie omdat hulle gereeld wedstrydgroepe roteer:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 22-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-874-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-45-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-39-sent per vat.
# En ten slotte: Vogue se internasionale kreatiewe direkteur, Anna Wintour, het die besluit verdedig om die miljardêr Jeff Bezos en sy vrou, Lauren Sánchez, as die hoofborg van 2026 se Met-gala aan te wys. Die Franse luukse handelsmerk Saint Laurent en Vogue se uitgewer, Condé Nast, is die sekondêre borge. Die mode-gala word tradisioneel deur luukse modehuise ondersteun. Kritici voer aan die egpaar se betrokkenheid beklemtoon ‘n verskuiwing na miljardêrs se beheer oor kulturele instellings. Wintour sê egter sy is baie dankbaar vir die Bezos-egpaar se ongelooflike vrygewigheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….