Nuus 09:00
BULLETIN 25 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Finansiële Transformasieraad bevraagteken die betekenis van die G20-beraadverklaring
# Minister Steenhuisen sê die landbou-insetstelsel is nie op die rand van ineenstorting nie
# En Zelensky is bly oor belangrike wysigings aan die voorgestelde vredesplan
# Die Raad vir die Transformasie van die Finansiële Sektor sê Suid-Afrika kom voor die moeiliker taak te staan om die verklaring van die G20-leiersberaad se betekenis vir die toekoms van Afrika te vertolk. Die verklaring verbind groot ekonomieë daartoe om globale ongelykheid te pak, internasionale finansiële stelsels te hervorm en aan inklusiewe groei ‘n hupstoot te gee, met ‘n sterk fokus op Afrika en die breër Globale Suide. Buntu Gwija van die raad sê Afrika se verhaal het nog nooit deur verklarings gestalte gekry nie:
# Minister van Landbou, John Steenhuisen, het bewerings ontken dat Suid-Afrika se reguleringstelsel vir landbou-insette op die rand van ineenstorting is. Dit volg op bewerings deur die landbou-organisasie SAAI dat die administrasie van Wet 36, wat die registrasie van plaagdoders, kunsmis en veevoer reguleer, besig is om inmekaar te tuimel. Die woordvoerder van die departement, Joylene van Wyk, sê beduidende vordering is gemaak met die modernisering van die stelsel om onnodige vertragings uit te skakel:
# ActionSA het ‘n strafregtelike saak aanhangig gemaak nadat daar tydens ʼn veldtog by die Barcelona Primary School VD in Wyk 109, Ekurhuleni, op sy aktiviste geskiet is. Niemand is beseer nie. ActionSA-woordvoerder, Matthew George, sê dis kommerwekkend dat die voorval plaasgevind het minder as 24 uur nadat burgemeesterskandidaat Xolani Khumalo in dieselfde gebied suksesvolle klopjagte teen dwelms uitgevoer het, waar dwelmhandelaars en misdadigers wat in die gebied bedrywig is, in die visier was:
# President Volodymyr Zelensky van Oekraïne het die voorgestelde veranderinge aan Amerika se 28-punt-vredesplan verwelkom en sê die lys stappe om die oorlog te beëindig, raak nou uitvoerbaar. Volgens die oorspronklike plan moes Kiëf onttrek aan stede wat hy in die oostelike Donbas-streek beheer en sy weermag verklein. Zelensky sê die hersiene plan is die regte benadering. Hy sê hy sal die sensitiewe kwessies met president Donald Trump van Amerika bespreek. ʼn Kremlin-amptenaar verwerp die wysigings en sê dis nie opbouend nie.
# Gholf: Die Sonskyntoer vir Vroue het ʼn versterkte 2026-program en spog met tien toernooie. Die skedule sluit in die Europese Damestoernooi, die Johannesburg Dames-Ope, en die Investec Suid-Afrikaanse Vroue-Ope. Die MCB Ladies Classic wat in Mauritius plaasvind, is ʼn nuwe toevoeging vir volgende jaar. Die Sonskyntoer se kommissaris, Thomas Abt, sê dis baie belangrik om die spelers se moontlikhede uit te brei en die program verskaf selfs beter geleenthede om hul loopbane op ʼn internasionale vlak te ontwikkel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30 sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 22-rand-66 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-21 dollar. Die prys van goud is vier-duisend-146 dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-43-per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….