Nuus 08:00
BULLETIN 25 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC wil sy alliansie met die SAKP beskerm
# SKOOR gaan voort met die ondersoek na die Padongelukkefonds
# En ‘n regter laat vaar die sake teen die voormalige FBI-direkteur en New Yorkse prokureur-generaal
# Die ANC sê dis belangrik om die rewolusionêre en geskiedkundige bondgenootskap met die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty te beskerm. Die ANC en SAKP het gister ‘n bilaterale vergadering in Johannesburg gehou. Dis deel van voortgesette pogings om eenheid te bewerkstellig om die Nasionale Demokratiese Rewolusie te bevorder. Die ANC se nasionale woordvoerder, Mahlengi Bhengu, sê die SAKP se besluit om onafhanklik deel te neem aan die 2026 munisipale verkiesing, gaan nie goed wees vir die alliansie nie:
Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty sê intussen hy werk daaraan om sy posisie in aanloop tot die 2026 munisipale verkiesing te bevorder en terselfdertyd bande met bondgenote te versterk. Die SAKP se woordvoerder, Mbulelo Madlana, het beklemtoon die verhouding met die ANC gaan nie net oor verkiesings nie en hy bly verbind om hulle gedeelde program te verdedig en te versterk:
# Die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge begin sy agtste week van ondersoeke na die Padongelukkefonds, waar moontlike wanbestuur, gebrekkige bestuur en twyfelagtige besluite deur voormalige bestuurders en raadslede ondersoek word. Kommer sluit in onreëlmatige besteding, swak toesig en aanspreeklikheidsmislukkings. Die voormalige uitvoerende hoof, Collins Letsoalo, sal vandag verskyn, met raadslede Lorraine Francois, Thembelihle Msibi, Lekau Moses Nyama en Nomonde Mabuya-Moloele wat op 27 November sal getuig.
# ʼn Amerikaanse federale regter het die strafregtelike aanklagte teen die voormalige FBI-direkteur, James Comey, en New York se prokureur-generaal, Letitia James, laat vaar. Die rede is dat die aanklaer, president Donald Trump se prokureur Lindsey Halligan, nie wettig aangestel is nie. Regter Cameron Currie sê Halligan, wat nog nooit ʼn aanklaer in ʼn saak was nie, is nie gemagtig om die aanklagte aan die groot jurie voor te lê nie. Die Justisie-departement sê hy gaan appelleer. Comey sê die vervolging is gebaseer op kwaadwilligheid en onbevoegdheid:
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, het ʼn voorlopige groep van 54 aangekondig vir volgende maand se Afrikabekertoernooi in Marokko. Sy aanvanklike groep is ʼn mengsel van ervare en opkomende spelers. Dit sluit spelers in soos Themba Zwane, Onder-20 Afcon-wenner middelagterspeler Tylon Smith, en Shandre Campbell. Fawaaz Basadien is ook weer terug. Die groep sal volgende maand tot 23 spelers verminder word. Suid-Afrika is in Groep B saam met Angola, Egipte en Zimbabwe.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-27 sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 22-rand-65 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-845 dollar. Die prys van goud is vier-duisend-147 dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-54-per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….