Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 25 November 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig oudminister Jeff Radebe is volgens die nasionale direkteur van Openbare Vervolgings, Shamila Batohi deur advokaat Andrew Chauke gebruik om die aanklaer in KwaZulu-Natal te dreig. Batohi het getuig in die verhoor om vas te stel of Chauke geskik is vir sy pos as adjunk- openbare vervolger.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula moes ingryp toe die voorsitter en sekretaris-generaal van die party se jeugliga mekaar geskors het oor ‘n geskil oor die kieskonferensie volgende maand.
Dan skryf die webblad die internasionale media het Suid-Afrika se aanbieding van die G20-leiersberaad geprys en sê die grootste deurbraak is die Leiersverklaring wat aanvaar is.
En laastens is daar nuus oor die voormalige direksievoorsitter van PretoriaFM, Willie Spies, wat op pad is politiek toe.
GAUTENG:
# The Star:
Berig nagenoeg 60-persent van alle kindermoorde in Suid-Afrika kom in net drie provinsies voor. Dit is die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Gauteng.
En tweedens skryf die koerant die DA se Federale Regskommissie gaan ondersoek instel na die voortslepende leierskapsvete tussen die partyleier, John Steenhuisen en die federale voorsitter, Helen Zille.
# Sowetan:
Berig die sowat 20 MK-party vegters wat in Rusland vasgekeer is nadat hulle na bewering onder valse voorwendsels soontoe gelok is om teen Oekraïne te veg, het uitgereik na Duduzile Zuma om te verseker hulle kom veilig tuis. Een van die vegters sê hulle weet nie hoe hul daagliks oorleef nie.
# En The Citizen:
Berig soos The Star oor die vete in die DA. Zille het Steenhuisen glo gevra om op te hou om sy meningsverskil met oudminister Dion George in die openbaar te debatteer.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die polisie is op soek na ‘n man in ‘n wit Toyota Corolla wat tussen betogers teen geslagsgeweld in Observatory ingejaag en weggejaag het. Twee mense is in die voorval beseer.
Vervolgens is daar nuus oor ‘n reuse-graad sewe-leerder van die Laerskool Swartkop in Centurion wat op pad is na die hoërskool. Hy is die 13-jarige Corné Cloete wat 1,96-meter in sy sokkies staan.
En laastens skryf die koerant ‘n watertenk wat Sondag tydens ‘n storm op ‘n plaas buite Petrusburg in die Vrystaat weggewaai het, is twee kilometer verder opgespoor.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Skryf die watervoorsieningsprobleme in die OR Tambo-munisipaliteit is nog lank nie opgelos nie en daar is nog baie werk wat gedoen moet word.
En tweedens word berig die NVG in die Oos-Kaap is op soek na verskeie lede van die destydse weermag om geregtelike ondersoeke na apartheidsmoorde af te handel.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Berig eerstens oor die jongste oorstromings wat in KwaZulu-Natal voorgekom het. Daar was sterftes, mense word vermis en reuseskade is opnuut aangerig.
En tweedens is daar nuus oor die Bokke se span teen Wallis vir Saterdag se kragmeting in Cardiff.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig brandstofhandelaars in die noorde van Namibië het tussen 2016 en 2022 inkomste van meer as 233-miljoen-rand verloor weens die onwettige smokkel van brandstof uit Angola.
Dan skryf die koerant die Namibiese Mededingingskommissie sê in ‘n appèlaansoek in die Hooggeregshof kritieke bewyse is oor die hoof gesien in die beweerde sameswering om die pryse van medikasie op te blaas.
En laastens is daar nuus oor kunsklasse wat op die strand aangebied word vir leerders van Swakopmund.