Nuus 16:00
BULLETIN 24 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Parlementslede gaan Matlala se getuienis in die Kgoši Mampuru-gevangenis aanhoor
# Die Tembisa-hospitaal-omkoopsaak word uitgestel tot 2 Desember
# En krieket: McCullum vra Engeland se ondersteuners om hulle span steeds te vertrou ná hulle loesing in Perth
# Lede van die Parlement se ad hoc-komitee sal hierdie week die Kgoši Mampuru-gevangenis in Tshwane besoek om die omstrede sakeman, Vusimuzi ‘Cat’ Matlala, se getuienis aan te hoor. Die komitee ondersoek bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi, insluitend misdadige infiltrasie, korrupsie en politieke inmenging in die regstelsel. Die besoek volg op sekerheids-ondersoeke waarin bevestig is die tronk kan dit veilig aanbied. Matlala, wat verbind word aan bedrog van twee-miljard-rand in die Tembisa-hospitaal en twee pogings tot moord, bly in aanhouding nadat sy borgtog geweier is.
Die Landdroshof in Pretoria het intussen die korrupsiesaak teen ‘n Valke-amptenaar en ‘n Tembisa-hospitaalbeampte tot volgende Dinsdag uitgestel. Die Valke se woordvoerder, Thandi Mbambo, het bevestig die twee het 100-duisend-rand aan ‘n geheime ondersoeker oorhandig om ‘n hospitaaltender-ondersoek te laat ontspoor. Hulle staan tereg op aanklagte van poging om ‘n lid van die Valke om te koop. Die Spesiale Ondersoekeenheid het vroeër vanjaar onthul daar is ongeveer twee-miljard-rand van belastingbetalers se geld verduister in die hospitaal se kontrakte. Die Valke se waarnemende hoof, Siphosihle Nkosi, sê ondersoeke sal onvermoeid voortgaan.
# Die DA het aangekondig hy sal geskille tussen senior ampsdraers ondersoek. Die party se federale uitvoerende gesag het die saak na sy Federale Regskommissie verwys om beweerde oortredings van sy grondwet te ondersoek. Alle betrokke partye is opdrag gegee om op te hou om hul verskille in die media uit te blaker en interne prosesse toe te laat om hul gang te gaan. Die voorsitter van die federale raad, Helen Zille, het die party se verbintenis tot etiese en verantwoordelike leierskap beklemtoon.
# Kaapstad wil sy bemarkingsveldtog uitbrei en op Chinese reisigers fokus. Volgens onlangse data van die Verenigde Nasies se Wêreldtoerisme-organisasie was Chinese reisigers verlede jaar volgens land die grootste besteders. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê hulle sal nou uitreik na ander groot sosiale media-platforms in China, waar hulle die groeiende Chinese taalinhoud soos artikels, pamflette en video’s oor bestemmings sal inspan:
# Krieket: Engeland se hoofafrigter, Brendon McCullum, het ondersteuners gevra om die geloof te behou ondanks die nederlaag met agt paaltjies teen Australië in die eerste toets om die As in Perth. Die gashere het binne twee dae gewen, ondanks die besoekers se voorsprong van 40 lopies in die eerste beurt. Engeland is toe in sy tweede beurt vir slegs 164 uitgeboul, waarna die Baggy Green maklik die wenteiken van 205 behaal het. McCullum sê hulle moet kalm bly en terugslaan:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 22-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-964-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-68-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….