Nuus 14:00
BULLETIN 24 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die oorhandiging van die G20-presidentskap aan Amerika gaan sonder seremonie plaasvind
# Zelensky sê Rusland moet vir die oorlog betaal
# En krieket: Die Proteas dwing nie die opvolgbeurt af na Jansen ses Indiese paaltjies neem nie
# Die direkteur-generaal van Internasionale Betrekkinge, Zane Dangor, sê Suid-Afrika sal waarskynlik môre in Pretoria die G20-presidentskap aan Amerika oorhandig. Minister Ronald Lamola het Saterdag gesê aangesien Amerika slegs ‘n junior ambassade-amptenaar aangewys het, sal Suid-Afrika dit ewenaar ná die Amerikaanse president, Donald Trump, se afwesigheid by die beraad in Johannesburg. Dangor het aan Newzroom Afrika gesê daar sal geen formele seremonie wees nie:
# Die Vereniging van Staatsamptenare het die Mediese Skema vir Staatsamptenare skerp gekritiseer vir sy beplande bydraeverhoging van 9,8-persent vir volgende jaar. Die VSA verteenwoordig meer as 245-duisend werkers en pensioentrekkers. Hy sê die verhoging is onregverdig en veel hoër as privaat skemas se gemiddeld van ses-persent. Hy beskuldig GEMS daarvan dat hy bedrog en wanbestuur ignoreer terwyl hy sukkelende lede met stygende lewenskoste belas. Die vakbond waarsku dat hulle hul optrede, insluitend massabetogings, kan verskerp as die verhoging nie geskrap word nie.
# Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se Brandweerdienste het daarin geslaag om verskeie brande wat oor die naweek gewoed het, in bedwang te bring. Die brand bokant die Swaarmoedpas in die Matroosberg, wat deur weerlig veroorsaak is, is ten volle geblus. Die brandlyn in die Goat’s Window- en Melozhori-gebied is ook ten volle in bedwang gebring. Jo Anne Otto van die munisipaliteit sê daar is tans twee aktiewe brande:
Nuus uit die buiteland:
# Die Oekraïense president, Volodimir Zelensky, sê Kiëf sal aanhou om met sy bondgenote saam te werk aan kompromieë rakende die voorgestelde vredesplan wat sy land sal versterk eerder as verswak. Dit volg op gister se gesprekke tussen Amerika en verteenwoordigers van Oekraïne en die Europese Unie in Genève om die Amerikaanse president, Donald Trump, se 28-punt-vredesplan te verfyn. Zelensky het per video-oproep aan Swede se Parlement gesê die aanvaller moet betaal vir die oorlog. Hy sê ‘n besluit oor die gebruik van Russiese bates is van kritieke belang.
# Krieket: Suid-Afrika het Indië nie gedwing om op te volg nadat die gasheer uitgeboul is vir 201 nie – ‘n eerstebeurt-agterstand van 288 lopies. Marco Jansen, wat 93 aangeteken het vir die Proteas, het geskitter met ses paaltjies. Senuran Muthusamy het vroeër 106 bygedra en die Proteas het geëindig op 489. Suid-Arika het die eerste toets in Kolkata gewen, hulle eerste toetsoorwinning in Indië sedert 2010, en nog ‘n oorwinning sal hulle die eerste keer sedert 2000 ‘n reeksoorwinning besorg. Die Proteas was met uitskeityd op 26 sonder verlies.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 22-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-863-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-71-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….