Nuus 13:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 13 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mdwaba sal nie ministers om verskoning vra nie, maar staan by sy verklaring
# ‘n Arbeidsontleder sê die regering het min gedoen om te help met werkskepping
# En, krieket: Slegs ses van Engeland se Wêreldbeker-groeplede word vir die Windies-toer behou
# Die uitvoerende hoof van Thuja Capital, Mthunzi Mdwaba, weier om verskoning te vra nadat hy top ANC-leiers betrek het by ‘n skandaal met die Werkloosheidsversekeringsfonds. Mdwaba beweer die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, die minister van Finansies, Enoch Godongwana, die minister van Indiensneming en Arbeid, Thulas Nxesi, en die minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande, het 500-miljoen-rand geëis het vir ‘n tendertransaksie van vyf-miljard-rand met die WVF. Mdwaba het in ‘n onderhoud met eNCA gesê hy het alle staatskontrakte gekanselleer nadat hy omkoopgeld gevra is:
Speel klankgreep:
# Die arbeidsontleder, Michael Bagraim, sê hy verwag nie binnekort groot veranderinge aan die land se werkloosheidskrisis nie. Statistieke Suid-Afrika sal môre in Pretoria die resultate bekendmaak van die kwartaallikse arbeidsmagopname vir die derde kwartaal van vanjaar. Die huishoudelike steekproefopname meet die arbeidsmarkaktiwiteite van individue van 15 tot 64 jaar oud. Bagraim het aan eNCA gesê die regering het nie genoeg gedoen wat die skep van werksgeleenthede betref nie:
Speel klankgreep:
# Africa Unite doen ‘n beroep vir die beskerming en integrasie van buitelanders in Suid-Afrika ná die skietdood verlede week van twee Somali-burgers in Philippi, Kaapstad. Lelethu Nogwavu van die organisasie sê hulle veroordeel die teiken van buitelanders, veral kleinsake-eienaars. Africa Unite het ook sy kommer uitgespreek oor die regering se voorstel om spaza-winkels in buitelanders se hande te oudit. Dit volg na verskeie voorvalle waar kinders gesterf het na hulle kos geëet het wat na bewering by straatsmouse en spaza-winkels gekoop is. Nogwavu sê as dit spesifiek gerig is op buitelanders, sal dit vreemdelinge-haat vererger.
#Krieket: Slegs ses spelers van Engeland se Wêreldbeker-groep sal die land in volgende maand se eendagreeks teen die Windies op die Karibiese Eilande verteenwoordig. Jos Buttler behou die kapteinskap al kon die verdedigende kampioen nie die halfeindronde bereik nie. Joe Root, Jonny Bairstow en Mark Wood kry ʼn blaaskans voor die begin van die toetsreeks teen Indië in Januarie, terwyl die toetskaptein, Ben Stokes, ʼn operasie ondergaan vir ʼn knie wat hom al lank reeds pla. Die eendagreeks van drie wedstryde teen die Windies word opgevolg met vyf T20’s.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 19-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 27-duisend-14-dollar-30-sent. Die prys van goud is een-duisend-937-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-35-sent per vat.
# Om mee af te sluit: Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing en die Volhoubare Finansierings-koalisie het bioverskeidenheids-bestuursooreenkomste gesluit. Dit is in samewerking met die Afrika Wildernis-stigting ontwikkel en gaan by drie privaat renoster- en leeu-eienaars in Limpopo ingestel word. Dit is die eerste bioverskeidenheids-bestuursooreenkomste wat in Suid-Afrika ontwikkel en ingestel is. Die departement sê die eienaars van die wildplase het ingevolge die ooreenkomste onder meer ingestem om te voldoen aan alle wetlike verpligtinge wat met die bestuur van leeus en renosters verband hou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….