Nuus 12:00
BULLETIN 24 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê die sukses van die G20-leiersberaad toon Suid-Afrika se toenemende vordering
# Oekraïne sê beraadslaging oor ‘n vredesplan was produktief
# En rugby: Malcolm Marx sê sy Speler van die Jaar-toekenning behoort aan die hele span
# President Cyril Ramaphosa sê die sukses van die G20-leiersberaad, ‘n verbetering in die prestasie van die ekonomie en groeiende vertroue in die hervormingsprogram, toon Suid-Afrika se toenemende vordering. Die beraad is afgesluit met ‘n leiersverklaring wat met ‘n oorweldigende konsensus aangeneem is. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die land se G20-presidentskap is gewortel in die oortuiging dat die wêreld meer solidariteit, gelykheid en volhoubaarheid benodig. Hy sê ook die regering het ooreenkomste bereik wat elke Suid-Afrikaner sal bevoordeel.
Intussen sê die adjunkminister van Finansies, David Masondo, Suid-Afrika se uitgawes vir die beraad moet as ‘n belegging beskou word, en nie net as ‘n uitgawe nie. Die regering het nog nie die finale uitgawes bekend gemaak nie. In September was die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se skatting egter ongeveer 700-miljoen-rand. Twee weke gelede het die minister van Finansies, Enoch Godongwana, ‘n bykomende 100-miljoen-rand aan die G20-begroting toegeken. Masondo sê die langtermynvoordele van die beraad sluit in verbeterde blootstelling, potensiële beleggingsinvloei en verhoogde diplomatieke status.
# President Volodimir Zelensky van Oekraïne se personeelhoof, Andriy Yermak, sê vredesonderhandelinge met die Amerikaanse afvaardiging onder leiding van die minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, was produktief. Die konsepplan van 28 punte wat president Donald Trump voorgelê het, word beskou as positief vir Rusland, maar Europese bondgenote is bekommerd. Yermak sê daar is deeglik aandag gegee aan al hulle basiese bekommernisse, veiligheidswaarborge, langtermyn- ekonomiese ontwikkeling, infrastruktuurbeskerming, vryheid van beweging en politieke soewereiniteit:
# Rugby: Die Springbok-haker Malcolm Marx sê sy aanwysing as Wêreldrugby se Speler van die Jaar laat hom nederig voel. Die 31-jarige het sy landgenote Pieter-Steph du Toit en Oche Nché om die toekenning uitgestof, asook Louis Bielle Biarrey van Frankryk. Die dubbele Wêreldbekerwenner is ook die eerste haker wat die toekenning verower sedert Keith Wood die eerste een in 2001 ingepalm het. Marx sê die toekenning behoort ook aan die hele span:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-94-sent teen die euro en 22-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-802-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-63-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-63-sent per vat.
# En laastens: Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het hulde gebring aan oudregter Leo van den Heever, wat in die ouderdom van 99 oorlede is. Sy was die eerste vrou ooit wat as regter in Suid-Afrika gedien het, en die eerste vrou wat in die Appèlhof aangestel is. Die departement se woordvoerder, Terrence Manase, sê Van den Heever se nalatenskap word gedefinieer deur integriteit, moed en ‘n diepe toewyding aan geregtigheid:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….