Nuus 08:00
BULLETIN 24 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau sê handelsbesprekings met die VSA sal voortduur
# Zuma se dogter open ‘n strafsaak teen haar suster oor mensehandel
# En die Israelse weermag maak Hezbollah se tweede hoogste figuur dood
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê hy verwag gesprekke oor ‘n handelsooreenkoms met Amerika sal voortgaan. Suid-Afrika probeer president Donald Trump se administrasie oorreed om die 30-persent tarief wat in Augustus op uitvoere na Amerika ingestel is, te verlaag. Diplomatieke betrekkinge tussen die twee lande is gespanne, veral nadat Amerika die G20-leiersberaad geboikot het. Tau het ook gesê die hernuwing van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika wat in September verstryk het, is steeds op die tafel:
# Oudpresident Jacob Zuma se oudste dogter, Nkosazana Bonganini Zuma-Mncube, het ʼn saak van mensehandel en bedrog teen haar suster Duduzile Zuma-Sambudla en twee ander aanhangig gemaak. Dit hou verband met die 17 Suid-Afrikaanse mans wat na bewering na Rusland gelok is om sonder hul toestemming in die oorlog teen Oekraïne te veg. Zuma-Mncube sê agt van haar familielede is onder die 17. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê ʼn dossier is geopen:
# ’n Beampte van die Valke en een van die Tembisa-hospitaal is in hegtenis geneem en aangekla van korrupsie. Hulle het probeer om ‘n Valke-ondersoeker wat korrupsie by die hospitaal ondersoek, met 100-duisend-rand kontant om te koop om vervolging te vermy. In September het die Spesiale Ondersoekeenheid sy tussentydse verslag oor sy ondersoek na die Tembisa-hospitaal vrygestel, wat drie gekoördineerde sindikate ontbloot het wat verantwoordelik was vir die plundering van meer as twee-miljard-rand. Die Valke se waarnemende nasionale hoof, Siphosihle Nkosi, sê die publiek kan verseker wees dat ondersoeke by die hospitaal onverskrokke sal voortduur.
# Die Israelse Weermag het Haitham Haytham Ali Tabatabai, ‘n senior lid van die militante groep Hezbollah, in ‘n lugaanval in die suide van Beiroet, Libanon, doodgemaak. Ten minste vyf mense is dood en 28 gewond in die aanval, wat ‘n woonstelgebou in die digbevolkte Dahieh-distrik getref het. Die Verenigde State het Tabatabai in 2016 as ‘n terroris verklaar. Die Israelse premier Benjamin Netanyahu sê hulle sal voortgaan om te doen wat nodig is om te verhoed dat Hezbollah sy vermoë om sy land te bedreig, herstel.
# Rugby: Engeland het sy elfde agtereenvolgende toetsoorwinning behaal toe hy Argentinië op Twickenham met 27-23 geklop het. Die speler van die wedstryd, Max Ojomoh, het in sy debuut op sy tuisveld Engeland se eerste drie gedruk en daarna Immanuel Feyi-Waboso en Henry Slade met hulle pogings gehelp. Losskakel George Ford het ʼn skepdoel, drie doelskoppe en ʼn strafskop bygedra. Ojomoh sê dis spesiaal om vir sy land te speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-721-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-44-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….