Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 24 November 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Suid-Afrika het ‘n verrassende G20-ooreenkoms beklink nadat die land dapper diplomasie aan die dag gelê het om ‘n wêreldwye dooiepunt te verbreek. Die koerant skryf daar is ‘n seldsame G20-konsensus bereik te midde van wêreldwye spanning.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig van die wêreldleiers wat die G20-leiersberaad bygewoon het was dit eens dat die G20 in gevaar verkeer as gevolg van lande soos die VSA se rol in geopolitiek. Die Europese lande het erken die swaartepunt van wêreldhandel is besig om te verskuif sodat die globale suide ingesluit word.
Dan skryf die webblad ‘n man in sy sewentigs van Noordwes, Piet van der Merwe, is Saterdag op ‘n plaas buite Ottosdal deur plaasaanvallers met ‘n mes doodgesteek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
En laastens is daar nuus oor Suid-Afrika se eerste vroulike regter, Leonora van den Heever, wat in haar huis in Kaapstad op 99-jarige ouderdom oorlede is.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Johannseburgse burgemeester, Dada Morero het die onderneming gegee dat die stad sal voortgaan met opknapping na die G20-beraad.
En berig die parlementêre ad hoc-komitee verskuif die week na die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria om die getuienis van Vusimuzi “Cat” Matlala aan te hoor.
# Sowetan:
Berig oor ‘n tiener wat haar eie lewe geneem het nadat sy haar pa vertel het sy is seksueel aangerand deur ‘n man.
# En The Citizen:
Skryf die wêreldleiers by die G20-beraad het ‘n duidelike boodskap aan president Donald Trump gestuur dat hulle nie voorgeskryf sal word oor wat om te doen nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor die G20.
En tweedens word berig die Springbok-haker Malcolm Marx het Saterdag die vierde Suid-Afrikaner geword wat as Wêreldrugby se Mans 15’s-speler van die jaar gekroon is.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig daar word ‘n nuwe leierskapsrol in die vooruitsig gestel vir die staatsaanklaer in Nelson Mandela Baai, Marius Stander.
En tweedens skryf die koerant die naasbestaandes van geliefdes wat in die Bethelsdorp-begraafplaas begrawe is, is geskok oor die vandalisme en agteruitgang in die kerkhof.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ‘n ernstige skeuring dreig in oudpresident Jacob Zuma se gesin. Dit volg nadat sy oudste dogter, Nkosazana Bonganini Zuma-Mncube, haar suster Duduzile Zuma daarvan beskuldig het dat hulle verskeie Suid-Afrikaners – insluitend sommige van hul eie broers en susters – onder valse voorwendsels na Rusland gelok het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibië se president Netumbo Nandi-Ndaitwah, sê ontwikkelende lande soek nie aalmoese nie, maar billike en gelyke finansieringsgeleenthede.
Dan skryf die koerant Namibiërs se stil en sigbare betoging teen geslagsgeweld is ‘n pleitdooi dat dit as nasionale noodtoestand verklaar moet word.
En ten slotte is daar nuus oor ‘n ma wat haar eenjarige seuntjie met ‘n mes doodgesteek het. Sy is tot 23 jaar gevangenisstraf gevonnis in die Hoërhof in Windhoek.